Perde is terapie vir kinders van Cullinan

Leerders word geleer hoe om op ’n perd te ry.

Kinders van ’n naskoolsentrum op Cullinan besoek elke tweede Vrydag die Willow perdestoet en ryskool waar hulle tyd met die perde bestee.

Hulle leer hoe om die diere af te borsel, hoe om die perde te versorg en ook hoe om veilig rondom perde te wees.

Die kinders geniet dit veral om perd te ry en hoe om die diere te hanteer.

Mavis Mashego, ’n onderwyser by dié naskoolsentrum, wou ’n uitstappie vir die kinders reël en het die Willow stoetplaas genader om die kinders te wys hoe om na ’n perd om te sien, waarvoor om op te let om te bepaal of ’n perd siek is en ook om elke kind ‘n beurt te gee om op ‘n perd te ry.


’n Leerder van die naskoolsentrum kry ‘n beurt op die perd.

Dié uitstappies is nou ’n gereelde ding.

Toni de Lange wat die stoetery namens die eienaar, Jaime-Li Roux, bestuur terwyl sy oorsee is, het gesê die kinders mag dalk al ’n perd gesien het, maar die meeste van hulle het nog nooit die kans gehad om op een te ry nie.

Die Willow perdestoet en ryskool het in die begin van die jaar vanaf Kathu na Cullinan verskuif. Hier word met bloedlyn perde geteel wat in internasionale skouspring kompetisies deelneem.


ALSO CHECK: Sig-gestremde onnie van Secunda inspireer ander met haar boek


Die perde moet geregistreer wees met die South African Warmblood Horse Society (SAWHS) Onder dié bloubloedperde by die Willow stalle is ook Zangershide perde wat uit net die beste springperde ter wêreld se bloedlyne geteel is.

Hulle kan uitgeken word aan die brandmerk in ’n z-vorm. Een van hierdie perde was vir skouspring op die Olimpiese Spele in Rio gebruik.

Volgens De Lange is Willow stoetplaas se mense lief vir hulle perde en hul gemeenskap en probeer hulle alles, soos gras, skaafsels en kos plaaslik aan te koop sodat die plaaslike mense ook werk het.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Exit mobile version