Local newsStreeknuus

Bronkhorstspruit-gemeenskap help siek driejarige

Sian Brits is byna weer sy ou self.

Die gemeenskap van Bronkhorstspruit het onlangs saamgestaan om ’n driejarige seuntjie en sy ouers in nood te help. Sian Brits (3) van Bronkhorstspruit was uit die bloute nie meer homself nie.

“Hy het een oggend opgestaan en olik gevoel. Hy het ook van maagpyn gekla,” het ma Charné gesê.

Sian se ouers, Renier en Charné Brits, het hom op 15 Mei dokter toe geneem waar daar X-strale van sy longe en bors geneem is.

Die X-strale het bevestig dat Sian vog op sy longe het en verder ook dermontsteking onder lede het.
Sian het toe medikasie hiervoor gekry.

Volgens Charné was daar na ’n paar dae egter nie veel verbetering nie en het sy vir Sian weer na die dokter geneem.

“Tydens ons besoek aan die dokter het Sian effe beter gelyk en het hy selfs ’n bietjie gesels.”

Kort ná dié doktersbesoek het dinge vir Sian egter vinnig begin verkeerd loop en volgens Charné het hulle daardie selfde middag nog met Sian na die Bronkhorstspruit Hospitaal gehaas.

Sian se suurstofvlak was baie laag en die hospitaal het begin om suurstof toe te dien. Volgens Charné was daar weer op 18 Mei X-strale van Sian geneem.

“Daar was soveel vog op sy longe dat een van sy longetjies nie eens sigbaar was nie en die dokter kon nie daarin slaag om ’n hartklop te kry nie.”

Renier en Charné het vir twee ure gewag waarna hulle die besluit geneem het om vir Sian by die hospitaal uit te teken.

Sy ouers het met hom na Unitas Hospitaal se ongevalle gehaas waar hy onmiddellik as kritiek begin behandeling ontvang het. Na verdere X-strale het die dokters besluit om ’n dreineringspyp in die longe te plaas.

“Binne enkele minute was daar reeds sowat ’n liter vloeistof vanaf sy longe gedreineer.”

Die geweldige hoeveelheid vloeistof het boonop erge drukking op Sian se organe veroorsaak wat tot gevolg gehad het dat sy derm ‘n obstruksie gehad het.

Hier was Sian in die waakeenheid vir kinders opgeneem waar hy onder verdowing geplaas was sodat sy liggaam en longe kans kon kry om te rus. Hy het ook steeds suurstof ontvang.

Gedurende die 10 dae wat Sian in die waakeenheid was, het hy baie gewig verloor en moes selfs weer doek dra.

Hy was ook elke vier ure omgedraai sodat hy nie bedsere sou ontwikkel nie. Volgens die Brits-egpaar kon klein Sian se ernstige siekte nie op ’n slegter tyd gekom het nie.

“Ons het van medies verander en Sian was dus vir ’n jaar nie onder die nuwe medies gedek nie. Ons moes dus by elke hospitaal vooraf betaal,” het Renier verduidelik.


LEES OOK: Bronkhorstspruit bikers host event to help one of their own


Dit was hier wat ’n gemeenskap saam gestaan het en hulp aan die Brits-gesin gegee het.

Tussen Bronkies Hoop, Good Morning Angels, verskeie kerke in Bronkhorstspruit, onder andere die Volle Evangelie Kerk in Riamarpark en die Pinkster Protestantse Kerk in Masada, is sowat R1m ingesamel om die astronomiese mediese uitgawes van Sian se behandeling te help dek.

Volgens Charné het een van die pastore selfs na die Unitas Hospitaal in Pretoria gery waar hy vir Sian gebid het.

“Danksy die gemeenskap, het ons slegs minimale onkoste om self te dra.”

Die Brits-gesin het hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap en kerke uitgespreek vir hul onbaatsugtige bystand tydens Sian se ernstige siekte.

Die goeie nuus is dat klein Sian vinnig op die herstelpad is.

“Hy is op en aan die gang en hy ry selfs weer fiets, iets wat hy twee weke gelede nog nie kon doen nie.”

Volgens Charné raak hy egter nog ’n bietjie kortasem wanneer hy té besig raak.

Sian behoort weer teen September na sy kleuterskool te kan terugkeer. Sian het ook ’n ouer sussie, Chanike.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button