Local newsStreeknuus

Mesmaker van formaat op Rietkol

“Hy het spoedig weer saam met die ander drie honde baljaar en niks kon hom onderkry nie.”

Riaan Manser, inwoner van Rietkol, maak nie net messe nie, hy skep praktiese kunswerke. Volgens Manser was daar nie geld vir duur speelgoed tydens sy grootword jare nie.

“Soos elke seun het ek maar altyd belangstelling in messe en gewere gehad,” het Manser gesê.

Hy vertel dat sy pa hulle geleer het om handig te wees en so was ons touwys gemaak met die herstel van voertuie, houtwerk en dies meer.

Manser het ook houtwerk as vak op skool gehad waar broodplanke en biltongsnyers deel van projekte gevorm het. In die destydse standerd agt het hy deur mestydskrifte geblaai en opgemerk dat die meeste van dié messe handgemaak was.

“Net daar het ek besluit dat ek dit ook gaan probeer maak; as ander dit kan doen, kan ek ook.”

Manser se pa het vir hom staal vanaf die saagmeulens huis toe gebring en met karige toerusting tot sy beskikking het hy sy eerste mesmaak-episode aangepak.

Hier was die mesmaak liefde gebore en volgens Manser het hy met verskeie tipes messe, soos jagmesse en slagmesse begin eksperimenteer.

Manser het sy heel eerste mes vir familie gegee en hy het aan ’n Duitse buurman sy eerste mes verkoop.
Hierna het die passie vir mesmaak net bly groei.

“Ek het verskillende tipes messe vanuit tydskrifte afgeteken en beproef.”


’n Voorbeeld van Riaan Manser van Rierkol se messe.

Manser het ook effe skaam na van sy eerste messe, geraam in sy werkswinkel, gewys.

“Selfs toe ek in 1987 na die Polisie Kollege in Pretoria gegaan het, het dit steeds ’n stokperdjie gebly.”

Na sy pa se dood in 1997 het Manser die polisiemag verlaat. Volgens Manser het hy en sy broer ’n besigheid op die been gebring, maar hy het steeds sy mesmaak stokperdjie beoefen.

In 2014 het Manser sy eerste knipmes gemaak en in 2016 het die besluit na byna 20 jaar gekom om voltyds mesmaker te word en het sy stokperdjie ’n beroep geword.


Van die eerste messe wat vanuit Riaan Manser se hande ontstaan het.

Hy het toerusting aangekoop en Manser het net op die maak van knipmesse gefokus. Manser het ook gesê dat hy soveel as moontlik skoue bygewoon het.

Reeds in 2016 het hy begin om sertifikate vir sy messe tydens skoue in te palm en het besef dat daar ’n aanvraag vir sy unieke knipmesse was.

In 2019 is Manser tot die Suid-Afrikaanse Mesmakergilde toegelaat.

“Hierna het dinge groot geraak, ’n Amerikaanse agent het met my kontak gemaak en kort daarna het ek my eerste messkou in Atlanta bygewoon.”


Riaan Manser, mesmaker van formaat in sy werkswinkel op Rietkol.

Manser het bygevoeg dat dit die grootste messkou in die wêreld is.

“Daar is mesmakers van regoor die wêreld, selfs van sover as Rusland wat daar messe uitstal en verkoop.”

Gedurende die jare 2020/21 kon hy weens die Covid-pandemie nie die skou bywoon nie. Manser kon dit egter weer in 2022 bywoon en het ook aansoek gedoen om in die Amerikaanse gilde toegelaat te word.

Hiervoor moes hy spesifieke messe maak om voor te lê en is op grond van sy werke tot die Amerikaanse gilde toegelaat, net betyds vir die 2023 skou wat weer in Atlanta gedurende Junie plaasgevind het.


Wyle Patch, die driebeen-hond.

Streeknuus is vir ’n toer deur Manser se indrukwekkende werkswinkel geneem en was verbaas oor die masjinerie en verskillende materiale wat gebruik word vir die maak van die wêreldgehalte knipmesse.

Daar was verduidelik van hoë vlekvrye staal vir die lemme, vanaf Europa ingevoer, handvatsels word uit koolstofvesel (carbon fibre), vanaf Lithuania of Amerika ingevoer, asook houtknoetse (burl) ook van Europa, maar dan ook verskeie hardehoutsoorte vanaf eie bodem.

Op ’n vraag oor wat die betekenis van die ‘3LD’ op Manser se messe se embleem beteken, het ’n nog ’n pragtige verhaal binne die suksesstorie ontvou.

“In 2009 het ek en my seuntjie ’n verwaarloosde hondjie langs die N12hoofweg opgemerk.”


Riaan Manser is sedert 2023 ook lid van die Amerikaanse Mesmakersgulde.

Pa en seun het stilgehou en die hondjie het dadelik in die motor gespring.

“Ons vermoed dat hy êrens uit ’n informele nedersetting weggeloop het.”

Manser het verder vertel dat die hondjie se lyf vol stukkende- en skaafplekke was en dat hy vermoedelik vasgemaak aangehou was.

Dié hondjie was ’n pitbull-kruising. ’n Hegte band was gou gevorm en die hondjie het die naam van Patch gekry.

Gedurende 2012 het Patch sy linker agterste been gebreek en die veearts het dit in gips gesit. Na ’n paar weke het dit egter septies geraak en moes die been geamputeer word.


LEES OOK: Water pollution case against Sasol in Secunda postponed again


Patch was egter gou weer op die been, alhoewel hy nou net drie gehad het. Hy het spoedig weer saam met die ander drie honde baljaar en niks kon hom onderkry nie.

“Patch se deursettingsvermoë om op drie bene te kon aanpas, het my laat besluit om my messe die embleem van ‘Three Legged Dog’ of dan 3LD te gee.”

Gedurende April van 2018, kort voor ’n Huntex skou, moes Manser ongelukkig vir Patch, weens chroniese inflammasie, laat uitsit. Patch rus nou onder die bome op die Mansers se kleinhoewe op Rietkol en ’n kruis is by die 3LD-logo gevoeg.

“Mense van regoor die wêreld skaf my messe aan, sommige meer as een. Dit is my beloning en daarom sal mesmaak my passie bly vir solank as wat ek kan,” het Manser afgesluit.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button