Sakeliga KragDag bou ’n kragstasie

As jy moeg is vir die voortdurende onderbrekings van beurtkrag en ander probleme in Suid-Afrika en soek na maniere om selfstandig te word, besoek KragDag tussen 9 en 12 Augustus.

As jy moeg is vir die voortdurende onderbrekings van beurtkrag en ander probleme in Suid-Afrika, en na maniere soek om selfstandig te word, dan is Sakeliga KragDag 2023 ‘n moet-besoek.

Die ekspo vind plaas van 9 tot 12 Augustus op Diamantvallei Landgoed, 20km oos van Pretoria.

KragDag is die grootste alternatiewe energie en selfstandigheid ekspo in die land, met meer as 600 ondernemings wat hierdie jaar deelneem.

Die tema vir Sakeliga KragDag 2023 is ‘Kom ons bou ’n kragstasie’.

Hierdie ‘kragstasie’ moet nie letterlik verstaan word nie, maar is ‘n metafoor van selfstandigheid vir huishoudings, ondernemings en gemeenskappe.

Die ekspo, wat die oppervlakte van 12 rugbyvelde beslaan, het in 2022 sowat 31 000 besoekers gelok en bied ’n platform vir inspirasie en inligting vir elke aspek van ’n selfstandige leefstyl – van alternatiewe energie, voedselverbouing, veiligheid en nuwe tegnologie, tot opvoedkunde, entrepreneurskap en buitelewe.

In die raadsaal is ook verskeie aanbiedings oor aktuele- en selfstandigheidsoplossings.

Die landbou sub-ekspo, in samewerking met TLU, bied iets vir opkomende en gevestigde boere in die graan-, vee- en gewasbedryf, maar ook vir die kleinskaal- en agterplaasboer.

Die program bevat ’n propvol arena- en skouringprogram, met Plaasmedia se jaarlikse Toyota Junior Afslaerskompetisie streekuitdunne as een van die hoogtepunte.

Sakeliga KragDag is nie net ’n handelskou nie. Dit is ’n heerlike gesinservaring met volop vermaak vir die kinders, ’n kou- en kunsmark, ’n verskeidenheid kos en ’n biertuin met verhoogoptredes.

Besoekers kan selfs in die KragDag kampterrein kamp met hul eie woonwa of tent, of in ingerigte tente.

Diegene wat per ligte vliegtuig reis, kan land op die Rhino Park Vliegveld en die pendeldiens na die ekspo benut.

Helikoptereienaars het ook ’n landingstrook op die ekspo perseel.

Exit mobile version