Local newsStreeknuus

Malita Aftree-oord se brandblussers in 2017 laas gediens, geen noodplan in plek

Diensrekords op die brandblussers het daarop gedui dat dit gedurende Februarie 2017 vir die laaste keer gediens was en dat die volgende diensdatum vir Februarie 2018 geskeduleer was.

Die draagbare brandblussers is uit diens, daar is geen brandslange en geen noodplan of gemerkte noodsamekomsplek – wat sou die uitkoms van ’n brand of noodsituasie by Malita Aftree-oord wees?

Malita Aftree-oord op Delmas is die eiendom van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit. Streeknuus het gaan inloer nadat ’n besorgde inwoner, Loot Louw, sy bekommernis oor die inwoners se veiligheid uitgespreek het.

Louw en ’n mede-inwoner, Johan du Plessis het die rede vir hul kommer uitgewys. Daar is 69 wooneenhede op dié perseel.

By elke vierde eenheid is ’n brandblusser teen die lae baksteenmuurtjies aangebring. Die brandblussers by Malita is gevul met ’n droë chemikalieë, genoem droë poeierblussers.


Die ingang na die Malita Aftree-oord op Delmas.

Diensrekords op hierdie brandblussers het egter daarop gedui dat dit gedurende Februarie 2017 vir die laaste keer gediens was en dat die volgende diensdatum vir Februarie 2018 geskeduleer was.

Hoewel ’n toegangsleutel tot die brandblusser agter ’n glasie gehang het, is daar geen notas op die eenhede aangebring dat glas in ’n noodgeval gebreek moet word nie.

Die een spesifieke eenheid aan Streeknuus uitgewys, was duidelik geroes en op die oog af nie in ’n goeie toestand nie.

Die eenheid se drukmeternaald het ook na links, in die rooi, gelê.


Die datum op ’n brandblusser by die Malita Aftree-oord dui daarop dat dit in 2017 vir die laaste keer gediens was.

Volgens kenners sou dit ’n teken wees dat daar onvoldoende chemikalieë binne die brandblusser is en dus nie effektief in die geval van ’n brand of vuur gebruik sou kon word nie.

Louw en Du Plessis het verder ook hul kommer uitgespreek oor die afwesigheid van ’n noodplan.

“Hier is geen afgebakende noodsamekomsplek, geen tekens aangebring en geen plan indien nood sou ontstaan nie,” het Louw gesê.

“Sou daar ’n noodsituasie uitbreek en die geboue ontruim moet word, sou niemand weet waarheen om te gaan nie. Baie van die senior burgers is bedlêend en daar is ook baie wat baie moeilik beweeg en in rolstoele is.”


Die drukmeternaald op ’n brandblusser by Malita Aftree-oord dui daarop dat die leeg is.

Louw het verder uitgewys dat daar geen brandslange op die perseel is nie.

“Kyk net hoeveel voertuie staan hier in die motorhuise. Daar is olie, brandstof en baie van ons inwoners stoor ook van hul oortollige items soos houtpalette daarin,” het Du Plessis gesê.

Hy het sy kommer uitgespreek oor hoe so ’n brand geblus sou word sonder toegang tot brandslange.

Streeknuus het Frans Bolton, die brandweerhoof van Victor Khanye gekontak rondom die diens van die brandblussers. Bolton het in ’n skrywe genoem dat die vorige diens, weens ’n zero-begroting, nie gedoen is nie.

Volgens Bolton beplan die brandweer om Malita se brandblussers in Oktober of November vanjaar te diens.
Bolton het verder gesê dit sal egter slegs geskied as die munisipaliteit se kontantvloei dit toelaat.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button