Local newsMunicipal

Victor Khanye se krisis met watertoevoer woed voort

Vir die inwoners van Eloff en Sundra was die krane egter nog heeltemal droog en was daar ’n sprankie hoop dat, nadat die lek op die Modderbee-lyn herstel is, daar weer water sou wees.

Terwyl Delmas die afgelope paar maande soms van water voorsien word, sit die inwoners van Sundra, Rietkol en Eloff met hul hande in hul hare, want in die binnekringe van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit is die dorpe sinoniem met die term, ‘sonder water’.

Inspeksie van die Modderbee-lyn wat Sundra en Eloff van water voorsien, het aanvanklik geen tekens van ‘n lek getoon nie, maar op 21 Julie was daar ‘n reuse lek in die vleigebied op die Modderbee-lyn opgespoor, gevolg deur die ontdekking van ‘n kleiner lek.

Toegang was egter bemoeilik deur die enorme hoeveelheid water in die vleigebied en herstelwerk kon eers op 25 Julie behoorlik begin, maar op dieselfde tyd het dit aan Streeknuus bekend geword dat munisipale amptenare wat aan gebreekte waterpype werk, sowel as dié wat watertenkers bestuur, boonop gestaak het.

Dit volg glo nadat die amptenare nie vir oortyd wat die afgelope week deur hulle gewerk was, vergoed was nie.


‘n Uittreksel uit ‘n kennisgewing vanaf die Victor Khanye Munisipaliteit waarin verduidelik word dat daar geen water vanaf Rand Water ontvang word nie.

‘n Ooreenkoms kon skynbaar bereik word, want die werkers was teen laatoggend weer op hul poste en kon Streeknuus teen die einde van die dag bevestiging kry dat albei lekke wel herstel is.

Inwoners het egter vroegoggend op 26 Julie ‘n boodskap gekry dat die Modderbee-lyn weer op dieselfde plek gebreek het.

Dit was toe reeds dag 17 waarop inwoners van Sundra, Rietkol en Eloff geen druppel water in hul krane gesien het nie.

Net die vorige dag het iwoners van Sundra en Eloff nog hul hoop en opgewondenheid oor die moontlikheid van water in hul krane wyd op sosiale media gedeel.


Die omvang van ‘n massiewe waterlek duidelik sigbaar.

Die vraag het egter ook gou ontstaan of Rand Water dit wel sou kon voorsien en of die reservoir op Sundra genoegsaam water sou hê om inwoners te voorsien.

Op Delmas het inwoners slegs vanaf 04:30 soggens tot 19:30 saans water tot hul beskikking gehad. Streeknuus (14 Julie) het oor die watertekort en onderbroke voorsiening in Delmas en Botleng berig.

Op 17 Julie was water egter weer terug in die krane vir Delmas se inwoners, net om weer op 21 Julie weer heeltemal te verdwyn. Op 22 Julie het die munisipaliteit bevestig dat Delmas se reservoirs heeltemal leeg is.

Volgens kennisgewings soos uitgereik deur die munisipaliteit word Delmas nie van genoegsame water vanaf Rand Water voorsien nie, daarom die lae en of geen druk nie.


Die pypbreek op die Modderbee-lyn is hier duidelik sigbaar.

In kennisgewings vanaf Rand Water word die rede vir die onvoldoende voorsiening vanaf dié instansie aan menige munisipaliteite as ‘onbeplande kragonderbrekings’ toegeskryf.

In die tussentyd het skole, privaat besighede, inwoners met boorgate en boere water aangebied vir die gebruik van inwoners op Delmas en op Eloff en Sundra.

Die munisipaliteit het ook, voor die staking, watertenkers beskikbaar gestel om nood waterpunte op die dorpe en watertenks te vul om ‘n klein bietjie verligting te bring.

Die inwoners van Botleng is egter nie so gelukkig nie en Streeknuus kon bevestig dat daar soggens vir slegs twee ure water beskikbaar is.

Streeknuus het verder ook berig dat AfriForum op 7 Julie ‘n skrywe aan Rand Water gerig het rakende die gebrek aan watervoorsiening aan sekere dorpe in Mpumalanga wat Delmas, Sundra en Eloff insluit.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld is daar tans verdere ondersoeke aan die gang.

Hulle wag op tegniese inligting ten einde agter die kap van die byl te kom rondom die gebrekkige voorsiening van water aan die inwoners van Delmas, Eloff en Sundra.



LEES OOK: Police catch stock thieves in eMbalenhle

LEES OOK: Police combine forces and recover firearm in Standerton

Related Articles

Back to top button