Nierversaking kry nie vir Elaine Swiegers van Secunda onder

Jong vrou kies om op die positiewe in haar lewe te fokus.

Elaine Swiegers (25) wens net alles kan weer terugkeer na normaal. Swiegers is in 2017, nadat sy begin sleg voel het dokter toe en het gehoor sy het nierversaking.

“Ek het groot geskrik en gedink dit is die einde vir my,” het sy vertel.

Sy het huidiglik net 3% nierfunksie en moet drie keer elke week vir dialise gaan.

Ten spyte van haar gesondheidsuitdagings, is Swiegers steeds elke dag getrou op haar pos in die finansiële afdeling van ’n eiendomsonderneming en prokureur op Secunda.

Haar lewe het baie verander sedert sy met nierversaking gediagnoseer is.

As sy vir dialise moet gaan, is dit vier-uur sessies, maar dan gaan sy voor of na haar dialisesessie werk toe of sy werk van die huis af.

“Ek voel soms swak en moeg na die dialise, maar ek probeer positief bly en is dankbaar dat ek kan werk,” het Swiegers gesê.

Sy ontvang eers sedert Januarie vanjaar dialise omdat sy eers onlangs ’n mediese fonds gekry het.

Voorheen moes sy na ’n staatshospitaal in Pretoria gaan, waar mediese personeel gesê het dialise sou haar nie help nie.

Sy kon egter in Januarie, nadat sy haar sig begin verloor het, ’n privaat dokter gaan sien wat haar op dialise gesit het.

Mense wat nierversaking het, kan nie alles vir hulself doen nie. Swiegers kan nie meer bestuur nie.

Haar verloofde of ander familielede moet haar daagliks by die werk en by die dialise sentrum op Trichardt gaan op- en aflaai.

Sy was ook vir ’n week in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal en vir ’n week in die gewone saal met haar nierprobleme.


LEES OOK: GALLERY: Govan Mbeki residents enjoy a winter wonderland


“Dit is maar deel van iemand wat aan nierversaking ly, se lewe om gereeld in en uit die hospitaal te wees,” het Swiegers gesê.

Sy het ’n dialise kateter wat in haar bors ingeplant is en gebruik word wanneer sy vir dialise gaan.

Dié kateter mag nie nat word nie en kan maklik verstop raak en dan moet Swiegers hospitaal toe sodat dit reggemaak kan word.

Swiegers het ook nog ’n pypie (fistula) wat in haar arm ingeplant is om dialise te vergemaklik.

Die eerste een wat ingeplant is, het nie gewerk nie en Swiegers moes weer teruggaan hospitaal toe om ’n ander een kry.

“Soms het ek nie eers krag om iets so simpels as om ’n bottel oop te maak, te doen nie, dan moet iemand my help.”


LEES OOK: Reckless truck drivers between Bethal and Morgenzon concern farmers


Swiegers mag ook net sekere kosse eet en moes baie kossoorte wat sy voorheen geëet het, uit haar eetplan sny.

Sy moet haarself mooi oppas terwyl sy op dialise is en mag byvoorbeeld nie koue kry nie.

“Ons gaan nie baie uit nie en is maar meestal tuis.”

Sy bestee graag tyd met haar verloofde en familie en is dankbaar dat hulle haar bystaan en ondersteun, asook haar verloofde se ouers wat dit vir haar moontlik gemaak het om vir dialise te kan gaan.

Swiegers wou eers nie vir dialise of selfs ’n nieroorplanting gaan nie, maar haar familie het haar oortuig om wel vir dialise te gaan.

Sy sal nou vir ’n nieroorplanting ook gaan, hoewel sy bang is die persoon wat ’n nier skenk sal dit nie maak nie.
Die waglys vir ’n nieroorplanting is egter nege jaar lank.

Swiegers se droom is om weer normaal te leef en onafhanklik te kan wees en dinge vir haarself te kan doen.

“Ek weet wonderwerke gebeur nog en ek hoop ek word heeltemal gesond.”

Swiegers het baie gesukkel met depressie kort nadat sy met nierversaking gediagnoseer is.

“’n Mens sukkel maar om so iets te aanvaar, maar nou probeer ek op die positiewe in my lewe fokus.”



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version