VLU Van Riebeeck-tak leer meer oor Bronkhorstspruit

VLU vrouens bymekaar gekom vir ’n vergadering.

Die Van Riebeecktak van die VLU op Bronkhorstspruit het verskeie onderwerpe aangeraak tydens hul Junie-vergadering.

Geserp, gebaadjie en gejas het hulle bymekaar gekom om vergadering te hou.

Fanie Kitching, eggenoot van die tak se sekretaresse Neva Kitching, het gepraat oor die geskiedenis en ontstaan van Bronkhorstspruit.

Hy het die vroue aangemoedig om hul dorp die beste plek te maak om in te woon.

Volgens Kitching het die naam Bronkhorstspruit sy oorsprong te danke het aan ’n waterplant bronkhors, wat welig in die rivier gegroei het.

“In ’n ander verklaring word genoem dat die rivier vernoem is na die eerste eienaar van die plaas waaroor die rivier loop, namlik. JGS Bronkhorst.”

Kitching het vertel die eerste naam vir Bronkhorstspruit was waarskynlik Kalkoenkransrivier, want kalkoenibisse het glo teen die kranse gebroei.

Hulle weet dat CJG Erasmus die plaas Hondsrivier in 1904 laat opmeet het en in 1905 het hy erwe op ’n openbare veiling laat verkoop.

Die stasie het sy naam Bronkhorstspruitstasie reeds sedert 1894 gehad. Die dorp se naam was vroeër Erasmus.

Daar was ’n Erasmus Laerskool en vandag nog Hoërskool Erasmus asook Erasmus Apteek. In 1929 is die naam Bronkhorstspruit amptelik aanvaar.

Straatname soos Cornelisstraat, Lanhamstraat en Cathystraat bestaan vandag nog. Dié was vernoem na Cornelis Erasmus en sy vrou Cathy.


Dot Kruger, sameroeper van die vergadering en die spreker, Fanie Kitching.

Lanhamstraat is na die landmeter wat die dorp opgemeet het vernoem, Roothstraat kry sy naam van ‘n mnr Rooth wat Erasmus se prokureur was, en Charl Cellierstaart het die naam gekry van die vendusie-afslaer wat die erwe opgeveil het.

Die dorp het in 1947 vir die eerste keer elektrisiteit vanaf Witbank gekry en die Bronkhorstspruitdam was gebou.

In die tydperk van 1982 tot 1986 het die inwonertal van 3 000 tot 7 000 gestyg. Tans is daar meer as 30 000 mense.

Volgens die tak se skakelbeampte, Elizabeth Kendall, is die VLU se Van Riebeecktak in 1952 gestig. Die eerste vergadering se tema was ‘Verbied TV’.

Talle ander hoogtepunte is uitgelig rakende die ontwikkeling van die dorp.

“In Augustus 2005 het Neels en Rita Pohl ’n kosbare boek die lig laat sien, naamlik 100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit.”

Dit is te koop by ANB Skryfbehoeftes en bevat baie foto’s en feite wat steeds van belang is vir elke inwoner.

Talle ander interessante en belangrike dinge is ook by die Junie-vergadering bespreek.

“Om deel van die VLU te wees en ’n lid van Van Riebeecktak, is ’n sielsverrykende ervaring,” het Kendall vertel.

Yolande Steenkamp, voorsitter, het almal verwelkom en Daleen Ferreira was ’n spesiale gas. Luitha de Jager se kreatiewe skeppings het die saal versier en vir kleur in die koue gesorg.

Sy het aan die vroue terugvoer oor die onlangse streekbestuurvergadering geggee en belangrike datums en opwindende gebeure wat wag, gedeel.


LEES OOK: Delmas se VLU vier 70ste verjaardag


Kendal het gesê die vroue hoop om vanjaar se kongres in groot getalle te kan bywoon. Dit is by Meulstroom Lodge op 30 en 31 Augustus.

Die kleiduifskietkompetisiege gereël deur VLU Overvaal, is steeds ‘n heerlike herinnering en het net goeie en positiewe gevolge gehad wat tot voordeel van elke lid van die VLU is.

Neva Kitching het gesê tak se kekkel-en-klets vind op 18 Augustus by Wierdapark plaas en Wapadrand se opedag op 20 September by NG Gemeente Garsfontein.

Die tesourier Zelda Theart, kompetisiesekretaresse Yula Bezuidenhout en skakelbeampte Elizabeth Kendall, het elkeen ’n beurt gekry om inligting te deel.


Neva Kitching en Zelda Theart geniet heerlike warm sop op ‘n koue oggend tydens die vergadering.

Die Van Riebeecktak het tans 28 lede waarvan drie erelede is.

“Hulle omgee en entoesiasme vir mekaar en wat in die tak gebeur, kring uit na belangstellendes op hul dorp en dit is veblydende nuus,” het Kendall gesê.

Chrisna Steenkamp het meer oor die uitstappie na Sammy Marks Museum wat in Mei plaasgevind het, vertel.

“Toekomstige geldsinsamelings is bespreek, almal sien ook reeds uit na die tak se opedag op 19 September wanneer Chris Coetser hulle met sy lieflike sang gaan vermaak,” het Kendall vertel.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Exit mobile version