Delmas se VLU vier 70ste verjaardag

“Almal is soos rowwe diamante, vol geleenthede en potensiaal wat ontgin moet word. Die geleentheid om te ontwikkel lê by die Vroue Landbou-unie. Dit is waar vroue se talente ontdek en ontwikkel word.”

Met groot feesvieringe het die vroue van Delmas Vroue Landbou-unie (VLU) die tak se 70ste verjaarsdag op 15 Junie gevier.

Lede en gaste het rondom keurig en smaakvol gedekte tafels by Flora Hill bymekaar gekom om hierdie fees geleentheid te vier.

“Groot was die ontmoeting tussen lede en ou vriendinne wat spesiaal genooi was,” het die skakelbeampte Magriet Swart gesê.


Streekvoorsitter, Marcelle van Vuuren.

Die voorsitter, Marié Terblanche, het die streekvoorsitter, Marcelle van Vuuren asook die streek beoordeelaarsameroeper, Hendriët Prinsloo wat spesiaal van Witbank af gekom het, verwelkom.

Ander spesiale gaste was Dalien Krüger, Cecilia van Wyk, Hettie Olivier, Elsie Bredenkamp, en Esther Scott. Cathy Viljoen was ook onder die spesiale gaste en kon tydens die geleentheid haar 30-jaar knopie aansteek.

“Almal is soos rowwe diamante, vol geleenthede en potensiaal wat ontgin moet word. Die geleentheid om te ontwikkel lê by die Vroue Landbou-unie. Dit is waar vroue se talente ontdek en ontwikkel word,” het Van Vuuren gesê.


70ste verjaarsdagvieringe by keurig gedekte tafels.

Swart het daarna ’n kort oorsig oor die totstandkoming en geskiedenis van die Delmas-tak gedeel. Volgens Swart was daar by drie geleenthede gepoog om ’n tak op Delmas te stig – aanvanklik in 1928, daarna in 1935, maar in 1953 is die tak herstig.

Die stigtingsvergadering van die huidige VLU-tak op Delmas is op 15 Junie 1953 aan huis van ’n mevrou Nieman gehou. Dié vergadering was deur Lulu Gouws, die voorstitter van die vroeëre Heidelbergstreek, waargeneem.

“Wanneer ons oor die 70 jaar terugkyk, is ons dankbaar vir ’n tak wat goed presteer op alle terreine. Ons is veral dankbaar vir elke lid wat deur se Delmas VLU-tak geïnspireer was en steeds geïnspireer word om haar beste potensiaal te bereik, om bymekaar te leer en om mekaar te leer.”


Dalien Krüger deel staaltjies uit die verlede.

“Vriendskapsbande, gesmee tussen positiewe vriendinne wat mekaar opbou en ondersteun, is baie kosbaar.”
Swart het bygevoeg die hoogtepunt van die kort programmetjie, was die terugblik wat ’n paar vroue uit hul ondervinding mee verras het.

“Veral Dalien Krüger het ’n paar komiese staaltjies van haar tyd as lid van ons tak gedeel.”

Hierna was die heildronk op die tak en oudlede deur Elsie Bredenkamp en Marié Terblanche ingestel. Die 70ste verjaarsdag was met ’n heerlike maaltyd en verjaardagkoek afgesluit.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Exit mobile version