VLU-vroue op Bethal leer van fotografie

Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 16 Mei by te woon.

Leon Drotsky, ’n plaaslike fotograaf, het op 18 April die lede van die VLU Bethal-tak meer van weerkaatsing in water vertel en ook van sy foto’s vertoon.

Drotsky het gesê van die belangrike dinge om in gedagte te hou wanneer ’n mens foto’s van weerkaatsings neem, is dat stil water beter weerkaatsings as bewegende water gee.

Volgens hom is vroegoggend, laatmiddag en die aande die beste tyd om foto’s te neem omdat die lig dan die beste is.

“Die onderwerp wat afgeneem word, moenie die weerkaatsing oorheers nie,” het Drotsky gesê.

“Een van die reëls van fotografie is, minder is meer. Hoe minder voorwerpe in die foto is, hoe groter is die impak van die weerkaatsing.

“’n Horisonlyn in die middel van die foto, verdeel die foto in twee gelyke dele en benadeel dan die impak van die foto.

“Hoe eenvoudiger die voorwerp is, hoe sterker sal die impak van die foto wees.”

Die VLU se Bethal-tak vergader weer op Dinsdag, 16 Mei in die saal by die NG Kerk Bethal-Oos-gemeente en enige iemand is welkom om dié vergadering by te woon.

Lynette Posthumus, die skakelbeampte van die VLU Bethal-tak, het gesê vroue van enige ouderdom is welkom en hulle leer altyd iets interessants by die VLU.

“Kom kuier, eet en leer saam met ons,” het sy genooi.

Vir meer inligting, skakel Posthumus by 072 203 6230.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version