Local newsMunicipal

Raadslid veg vir toestand van paaie in Govan Mbeki Munisipaliteit

Motoriste trotseer daagliks slaggate.

Die VF Plus het onlangs die Mpumalanga se LUR vir openbare werke, paaie en vervoer, Mandla Ndlovu, gevra om dringend ondersoek in te stel en verslag te lewer oor die onderhoud aan paaie in die Govan Mbeki-munisipale gebied.

Aranda Nel-Buitendag, VF Plus-raadslid, het gesê die gebrek aan infrastruktuur en instandhouding, haal Govan Mbeki Munisipaliteit nou in.

Volgens Nel-Buitendag is meer as 80% van die paaie in en rondom Bethal, Charl Cilliers, eMbalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda en Trichardt se teeroppervlak aan die verkrummel en vol slaggate.

“Herstelwerk is blote lapwerk en van korte duur terwyl slaggate in so ’n mate vermeerder dat motoriste gereeld bande verloor,” het Nel-Buitendag gesê.

“In baie gevalle word twee bande gelyk beskadig en motoriste word gedwing om hulp te soek. Dit kan baie gevaarlik wees.Van die motoriste wat al noodgedwonge langs die pad moes stop om buitebande te ruil, is beroof.

“Die situasie het nou vererger na die onlangse swaar reën wat daartoe lei dat motoriste nie die slaggate, waarvan sommige tot 30cm diep is, sien nie.

“Ons kan nie toelaat dat kontrakteurs met belastinggeld sub-standaard werk doen wat tot onnodige lewensverlies kan lei nie.

“Dit is veral die swak dreineringstelsels van stormwaterdreine wat die situasie vererger. Die munisipaliteit onderhou nie die dreineringsstelsels nie en dit word vol van rommel, blare en ander afval.”

Nel-Buitendag meen dit blyk ook dat die munisipaliteit oor jare toegelaat het dat miljoene rande se noodsaaklike toerusting wat nodig is om die instandhouding te doen, so verval het dat daar nou op kontrakteurs staatgemaak word om noodherstelwerk te doen.

“Dit lei tot verdere onkostes met hoogs-betaalde munisipale amptenare en tegnici wat ledig sit omdat hulle nie toerusting en voorraad het om hul werk te doen nie.

“Ten spyte daarvan dat die munisipale bestuurder, Elliot Maseko, op ’n onlangse openbare vergadering belowe het om werk te maak van die situasie, het daar tot dusver nie veel gebeur nie.”

Die VF Plus sal by Ndlovu aandring dat hy saam met die party oorsigbesoek aan die paaie bring om eerstehands te sien wat motoriste daagliks moet trotseer.

“Die VF Plus dring jare reeds daarop aan dat die instandhouding en opgradering van infrastruktuur en toerusting in die munisipaliteit geprioritiseer moet word om te voorkom dat situasie soos tans ontstaan.

“Die munisipaliteit het egter voortgegaan met die wanbestuur van finansiële hulpbronne met die gepaardgaande korrupsie wat telkens ontbloot is.

“Ons sal aanhou om te stry vir die prioritisering van infrastruktuur in die begroting en die herstel van die professionele bestuur in die munisipaliteit.”



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button