Privaatspeurder help met ondersoek na Bronkhorstspruit-sakeman se ontvoering

Mike Bolhuis beveel aan dat sakelui waaksaam moet wees, nooit alleen moet ry nie, nie aan ’n 'roetine' moet klou nie, ’n lyfwag moet kry, sekuriteit moet opskerp en 'positief paranoïes' moet wees.

Die privaat speurder, Mike Bolhuis, het gesê sy span werk saam met die polisie se taakspan wat saamgestel is om Juca Leonardo se ontvoering te ondersoek en ’n spoedige veilige uitslag te bewerkstellig.

Leonardo is op 13 April as vermis aangemeld en sy motor, met koeëlgate deur die voorruit, is verlate by Versterpark in Bronkhorstspruit gevind. Die polisie het later bekendgemaak dat hierdie eienaar van Pick n Pay op Bronkhorstspruit wel ontvoer is.

Volgens Bolhuis het hy en van sy beste taakspanlede kontak gemaak met die owerhede en daar is bevestig dat ’n behoorlike en professionele eenheid van senior SAPD speurders, hooggeplaaste offisiere en veiligheidsinstansies van Bronkhorstspruit en Tshwane by die ondersoek betrokke is.

Bolhuis se betrokkenheid strek wyer as deel van ’n groter voortdurende ondersoek en bekamping van beplande en georganiseerde ontvoerings en diefstalle van welaf besigheideienaars.


Die ontvoerde Juca Leonardo van Bronkhorspruit is steeds vermis.

“Ons grootste bekommernis tans is dat daar georganiseerde bendes die Suid-Afrikaanse rykes en bekende sakelui teiken en dat dié trant aan die groei is.

“Bendes identifiseer ‘n gebied en slagoffer, ontvoer hulle en hou hulle aan vir ‘n losprys. Die bendes is ook swaar gewapen en sal nie twee keer dink om te skiet nie. Enige weerstand of konflik kan lei tot potensiële geweld teenoor die slagoffer en selfs sy naasbestaandes,” het Bolhuis gesê.

Een van die mees onlangse ontvoerings wat grusaam geëindig het, is dié van Kevin Soal, het Bolhuis vertel. Dié ryk sakeman is gewelddadig vermoor na al sy rekeninge getap is.

Bolhuis beveel aan dat sakelui waaksaam moet wees, nooit alleen moet ry nie, nie aan ’n ‘roetine’ moet klou nie, ’n lyfwag moet kry, sekuriteit moet opskerp en ‘positief paranoïes’ moet wees.


 


“Die ander modus operandi van dié goed-georganiseerde bendes is dat hulle toegang kry tot ryk sekuriteitskomplekse en dan hulle tyd vat om ‘n huis ‘skoon te maak’ – soms met die inwoners as gyselaars.”

Losprys met dié situasies, volgens Bolhuis, beloop tussen R2m en R5m en die kriminele laat gewoonlik die familie sweet totdat hulle ingee.

“Die publiek moet bewus gemaak word van wat aangaan, wat dit behels, en dat dié bendes soos ‘n goed-geoliede masjien te werk gaan. Dié kriminele is na bewering goed opgelei en is heel moontlik oud-sekuriteit en polisielede en selfs korrupte owerheidbeamptes.”

Volgens Bolhuis gaan dié tipe misdaad nie verdwyn nie, tensy twee dinge gebeur.

“Een is ’n algehele misdaadvoorkomingstrategie waar mense bewusgemaak word van dié soort misdaad en tweedens dat almal hande vat om dit te bekamp. Dit sluit in die publiek, polisie en die sekuriteitbedryf.

“Mense moet doodeenvoudig verby hul verskille begin kyk hetsy kleur, geloof of politieke stand. Dit is die enigste manier om Bronkhorstspruit veilig te kry.”

Intussen het die gemeenskap op 14 April voor die Pick ’n Pay op Bronkhorstspruit saamgekom om vir Leonardo en sy gesin te bid.

Inskrywings op Streeknuus se Facebookblad dui aan dat Leonardo ’n geliefde inwoner is en dat daar vir sy veilige terugkeer gebid word.


Mense trek op Vrydag, 14 April in die parkeerterrein van die Pick ’n Pay op Bronkhorstspruit saam om vir Juca Leonardo en sy gesin te bid. Foto: Mike Bolhuis

Volgens SAPD Bronkhorstspruit woordvoerder, Konstabel Munyadziwa Cathrine Ramovha, is daar tans egter geen verdere verwikkelinge in hierdie saak nie.

Enige een met inligting oor hierdie voorval, asook ander geweldadige voorvalle, word versoek om Sersant Kube by 072 697 7851 of SAPD Bronkhorstspruit by 013 932 9222 te kontak.

Mense kan ook wenke op die MySaps-app aanmeld, wat op enige slimfoon afgelaai kan word.

Enige feitelike inligting of leidrade kan vertroulik via WhatsApp na 082 447 6116 gestuur word.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version