Local newsStreeknuus

AfriForum se Valke Buurtwag streef na veiligheid vir hul lede en die gemeenskap

“Alhoewel ons steeds gefokus bly op die bekamping van misdaad in ons dorp en gereelde patrollies ry om sigbaarheid te verseker, bied ons ook nou bystand aan ons plaaslike polisie tydens byvoorbeeld groot ongelukke, kapings en ander meer ernstige misdaad in die omgewing.”

Die Valke Buurtwag vier vanjaar in November hul dertiende bestaansjaar. Volgens die voorsitter, Carel Botha, het die Valke klein begin, maar is daar vandag ‘n groot gewin.

“Gedurende die vroeë 2000’s was die inbrake in ons woonbuurte lastig en het van ons inwoners skade gely. Ek en my destydse buurman, Harry Saunders, het in 2010 besluit dat ons ‘n vorm van kontak met mekaar moet bewerkstellig.

“Ons het die eerste twee handradio’s aangekoop en sommer gou-gou was van die ander inwoners in die omgewing ook deur middel van tweerigting radio’s met mekaar in verbinding.”

Volgens Botha was daar baie positiewe navraag en kommunikasie oor groter afstande het die nodigheid vir ‘n herhaler daar gestel.

Botha ook gesê hy het hoed in die hand die dorp ingevaar om finansiële bystand te vra en gou-gou was daar genoeg geld ingesamel.

Die eerste herhaler het opgegaan, kommunikasie was bewerkstellig en die Valke Buurtwag het hul ontstaan gehad.


LEES OOK: AfriForum maak monument buite Standerton skoon


Gedurende 2016 was die Valke Buurtwag as ‘n AfriForum Buurtwag ingelyf en staan sedertdien as AfriForum se Delmas Valke Buurtwag bekend.

“Die ledetal het aansienlik oor die afgelope byna 13 jaar gegroei. Die aanvanklike doel van die buurtwag was die beskerming van ons lede en gemeenskap teen kwaaddoeners en inbrake.

“Die situasie in ons dorp het egter so verander dat daar noodgedwonge ‘n klemverskuiwing moes plaasvind en veranderinge aan ons uitkyk om die doel van die buurtwag moes plaasvind.

“Hoewel ons steeds gefokus bly op die bekamping van misdaad in ons dorp en gereelde patrollies ry om sigbaarheid te verseker, bied ons ook nou bystand aan ons plaaslike polisie tydens byvoorbeeld groot ongelukke, kapings en ander meer ernstige misdaad in die omgewing”.

Moderne kamera-tegnologie wat nommerplaat-herkenning doen, is ook by sekere strategiese punte opgerig.

“As enige voertuig die dorp binnekom wat óf gesteel óf met misdaad verbind is,word ‘n waarskuwing na sekere sleutelpersone gestuur.”

Die Valke is volgens Botha, ook besig om ‘n span reaksielede op te lei.

“Die span bestaan uit vrywillige lede wat onder die leiding van ons veiligheidsvoorsitter, Jaun Herholdt, intensiewe opleiding ontvang.

“‘n Hommeltuig is ook aangekoop en twee van ons lede, Hennie Rheeder en Pieter Botes het reeds opleiding van AfriForum ontvang.”

Botha het verder gesê dit is vir hom ‘n riem onder die hart dat Delmas se ‘bure’, naamlik die Eloff en Sundra Bulldogs se buurtwagte asook AfriForum se Argent Plaaswag so goed kan saamwerk in tye van nood.

“Ek bedank elkeen van ons lede wat ‘n positiewe bydrae maak en ook elke borg en skenker wat deur die jare ‘n bydrae tot ons sukses gemaak het en steeds maak.


LEES OOK: AfriForum will audit landfill sites in Govan Mbeki Municipality again


“Ek doen ook ‘n beroep op elke inwoner vanuit die Delmas-omgewing om by hul buurt- of plaaswagte aan te sluit. Jy doen dit vir jouself en die veiligheid van jou gesin en familie, want hulp is net ‘n knoppie op ‘n radio ver.

“Ons is trots daarop dat ons een van meer as 160 AfriForum buurtwagte landswyd is,” het Botha afgesluit.

“Ek bedank die Valke buurtwag vir hulle ondersteuning aan die Delmas Polisie.

“Wanneer ons om bystand vra, is die Valke beskikbaar en altyd gewillig om ons in tye van nood by te staan,” het Kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van Delmas SAPD, gesê.

As jy wil aansluit by AfriForum se Delmas Valke buurtwag en help om van Delmas ‘n veiliger dorp te maak, kontak Carel Botha by 082 925 5849.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button