KYK: Ligdraer-projek wil vier instansies in Secunda-omgewing help

Stap 3km saam of maak ’n donasie in die vorm van geld of nie-bederfbare kos.

Die vrywilligers van die Ligdraer-projek, wat deur die NG Kerk Goedehoop-gemeente aangebied word in samewerking met die gemeenskap, het reeds by verskeie van die instansies aan wie hulle geld gaan skenk, aangeklop en gaan kyk presies wat hulle benodig.

Die twee broers, Hendrik (71) en Johan Keyser (65) gaan op Maandag, 13 Maart om 06:00 by die eendedammetjie begin stap en vir vyf dae 30km daagliks stap om geld in te samel vir liefdadigheid.

Belangstellendes is welkom om die twee broers te vergesel en Maandag saam met hulle die eerste 3km af te lê.
Hulle gaan in die parkeergebied by die eendedammetjie begin om 06:00.


Die rolstoele by die House of Mercy Hospies benodig ’n diens en die organiseerders van die Ligdraer-projek soek iemand om die rolstoele te diens.

As jy die Ligdraer-projek wil ondersteun, kan jy ook nie-bederfbare kos gaan aflaai by Redemptive Coffee oorkant die eendedammetjie op Secunda.

Die broers stap hul vyfde dag op Vrydag, 17 Maart en dié geleentheid gaan die aand om 18:00 by die NG Kerk Goedehoop-gemeente afgesluit word waartydens die organiseerders die geld aan die vier instansies gaan oorhandig.

Die vier instansies wat by dié projek gaan baat, is Adullam Sendingstasie, House of Mercy Hospies, Janelle Huis op Evander en Davieshof.


Die organiseerders van die Ligdraer-projek wil graag dié gebied by Janelle Huis oordoen en nuwe plaveisel lê.

Een van die organiseerders, Liné de Vries, het gesê die Ligdraer-projek het verlede jaar R55 000 in totaal ingebring en hulle beoog om dié bedrag vanjaar te verhoog en R100 000 in te samel.

De Vries het gesê die doel van dié projek is spesifiek om kinders, ou mense, siek mense en weerloses wat nie vir hulle self kan vra, of soms verstaan wat hulle nodig het nie of die vermoeë het om lewensmiddels in die hande te kry nie, te help.

“Hulle is afhanklik van ander, van ons,” het De Vries gesê.


Dié banke by die House of Mercy Hospies is deurgesit en die organiseerders van die Ligdraer-projek wil graag nuwe kussings en oortreksels vir dié banke skenk.

Sy het gevra wat gaan jy oorhê eendag as jy oud is?

“’n Alzheimer brein wat nie met mense kan kommunikeer nie, ’n moeë, sukkelende heup wat net met ’n loopraam moet vorder, ’n kanker diagnose, ’n kind wat met jou probeer ‘Skype’ vanaf Australië, ’n beroerte halflyf, ’n dierbare klinieksuster wat met haar eie geld vir jou vitamienes koop?

“Of gaan jy gelukkig genoeg wees om ’n gemeenskap te hê wat vir jou omgee?”


LEES OOK: Caught red-handed in an illegal gold refinery in Sundra


Van die items wat die Ligdraer-projek benodig vir die vier instansies, sluit in geute, plaveisel, loodgieterwerke, verf vir van die ou kamers, komberse, blikkieskos, vitamienes, warm klere, toiletware en geld.

De Vries wil ook Engelse Bybels en Zoeloe Kinderbybels bymekaar maak en kan Christelike boeke vir kinders aankoop teen R12 per boek.

Ondernemings is welkom om De Vries te skakel om ’n oorhandiging te reël en belangstellendes wat ’n bydrae wil lewer, kan haar skakel by 082 786 0134 of vir Karin Strydom by 084 653 0050.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Exit mobile version