Local news

Standerton se matrieks van 1975 behou kontak met mekaar

Dié matriekgroep het heelparty klasmaats aan die dood afgestaan waarvan almal met mooi herinneringe onthou word.

Soos menige ander matriekklasse wat kontak wil behou, het die 1975-matrieks van Hoërskool Standerton (SHS) op ’n WhatsApp-groep van hul ondervindinge begin deel.

Nadat ’n klip in die bos gegooi is oor die aantal kinders en kleinkinders wat Suid-Afrika verlaat het, het die nou-bekende uithoeke van die aarde soos Australië, Nieu-Seeland, Switserland, VSA, Kanada, Dubai, Taiwan en Brittanje uit teksboodskappe begin stroom.

Dié groep se vaandeldraers is Deon Ferreira (Toontjies)  en Hermien Stapelberg (voorheen Van Heerden). Haar pa was voorheen  ’n dokter op die dorp en nou is haar broer ook dokter op Standerton.

Daar was 106 matrikulante met gemiddeld drie kinders en vier tot ses kleinkinders.

Standerton kan uitgesonder word as die plek waar mense die koudste kry en vir die matrieks staan dit in skrille kontras met die dorp se warm hartklop, wat ’n plek is om in groot te word.

Die WhatsApp-groep se geheue laat hulle nie in die steek met die byname van onderwysers by SHS nie soos Bongol, Hamel, Raap, Hoender en Sprinkaan.

Die hoof, Renier Els en onderwysers soos Pappa Buys, Hans Poliesman, Snaaf, Toppie de Wet, Charl Badenhorst, Chris Jooste, De Wet Schmidt, Mike Botha en die Engelse onderwyser, Mr Beckman wat ‘The Tempest’ van Shakespeare aan oorwegend Afrikaanse leerders moes oordra, asook knap juffrouens, is uitgesonder.

Van tyd tot tyd sal ’n lid op die groep iets noem van ’n onderwyser wat ’n stortvloed van staaltjies – sommige goed, ander nie – afgee.

Dié matriekgroep het heelparty klasmaats aan die dood afgestaan waarvan almal met mooi herinneringe onthou word.

Pat Dell, Johannes (Sam) Fourie, Louwtjie Olivier, Elsa van Rensburg, Renet Malan, Deon van den Berg, Mariëtte de Vos, André Koster, David van der Linde, Val van Rensburg, Michael (Kiepie) Basson, Andrew Worth, Izak Buys, Basie Moolman, Johan du Plessis, Anton Strydom en Hendrik Jordaan se afsterwe stem almal tot nadenke.

Doreen Schmidt, neé Scott, se dogter se nagmerrie-ondervinding met drie rowers in Pretoria, het haar laat besluit om te emigreer Nieu-Seeland toe saam met haar man en babaseuntjie. Doreen is van mening dat die kundiges die land verlaat, wat ’n jammerte is.

Haar seun is reeds 13 jaar in Switserland.

“Nou is my kinders weg en ek word ’n video-ouma vir altyd,” was haar bydrae.

Die Schmidts sou op 13 Februarie na Auckland vertrek om hul mense na ’n afwesigheid van meer as drie jaar weer te sien.

Standerton se boeregemeenskap word fluks verteenwoordig deur onder meer Wouter Kruidenier, Jurgens Brits, James Pretorius en Gerhard Spies in die omgewing.

Ander matrieks het saam met hul gades uitgewyk soos Hanlie, neé Uys, en Dawie Kuun, wat boer in die Ohrigstad-omgewing.

Die Rautenbach-neefs Neels en Nols boer ook in die Standerton-omgewing.

Niekie Draper van ‘garage party’-faam het Zimbabwe sy tuiste gemaak en meer as een voormalige Standerd 10 bly in die Wes-Kaap.

Kenmerkend is die uitnodigings wat uitgeruil word sou iemand in enigeen se geweste kom. Helen de Beer, voorheen Van der Merwe, self ’n boerkind, het die hospitaliteitsbedryf in Pretoria betree.

Wyle oom Piet van den Berg, die prokureur, se een tweelingdogter, Di van Niekerk, bly in die Kaap.

Dan is Retha Sleigh saam met haar man en hele familie in Mauritius, Jan Ackermann, destydse hoofseun, boer in Namibië en dokter Reynhardt van Rooyen-hulle wissel tussen sy praktyk op Swakopmund en Pretoria.

Wat die humorsin van die groep betref, staan hul geen tree agteruit vir enige komediant van wêreldgehalte nie.

“Stoutgatte, raakvatters, ‘go-getters’, vasbyters, slimkoppe, pretsoekers, gelowiges en getroue vriende,” was een mening.

’n Sterk geloofsboodskap word ook op die groep weerspieël.

Marnette van Rensburg, voorheen Van Zyl, het die bediening betree, asook Frikkie Viljoen en met die destydse pastoriekinders, Sam en Gerhard, wonder mense of ’n dominee se kinders die stoutste is.

Dominees Steyn Fourie en Louis Spies het vir ’n geruime tyd die herdersrolle op Standerton vertolk.

Die 1975 matrieks het ook ’n lys van gunstelingtreffers verlede jaar saamgestel en opvallend was die raakpunte in voorkeure.

Kunstenaars is daar ook soos Salomi en Di. Matrieks wat nie by naam genoem word nie is bloot uitgelaat vanweë beperkings op die aantal toelaatbare woorde vir die artikel.

Ten slotte word ’n strafdop, as dit ’n straf is, iemand summier toegewens na enige soort van glipsie.


You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button