Donker Donderdag op Delmas laat een dood en verskeie gewond

Met die polisie se aankoms op die toneel was hul ingelig dat een van die veiligheidswagte reeds doodgeskiet is en drie ander gewond was.

Die polisie op Delmas moes behoorlik bontstaan toe ’n vlaag van opstande, roof, geweld, moord en poging tot moord die omgewing getref het.

’n Groep van sowat 200 gewelddadige betogers het op die oggend van 9 Februarie amok by verskeie myne in die omgewing gemaak.

Die polisie op Delmas het inligting ontvang van ’n gewelddadige optog by ’n myn in die Delmas-omgewing.

Met die polisie se aankoms op die toneel is hulle ingelig dat een van die veiligheidswagte reeds doodgeskiet is en drie ander gewond is.

Die liggaam van een van die veiligheidswagte was op die toneel, naby aan die ingang van die myn by Brakfontein, gevind.

Die drie gewondes was deur noodpersoneel op die toneel gestabiliseer waarna hulle per ambulans na die Parkland Hospitaal in Springs vervoer is.

’n Saak van opsetlike saakbeskadiging is ook intussen by die polisie op Delmas geopen ná betogers glo aansienlike skade aan een van die myne se veiligheidskantoor aangerig het.

Die gebeure rondom die skietery is nie heeltemal duidelik nie, maar volgens die Delmas Polisie spruit dié optog deur aggressiewe en gewapende betogers na verskeie myne, glo uit hul ongelukkigheid oor die myne se aanstelling van nie-plaaslike veiligheidsmaatskappye.

Op dieselfde dag omstreeks 22:30 het twee polisielede van die Sundra Polisie roetine-patrollie op die R50, rigting Bapsfontein, gedoen.

Die lede het glo ’n gestrande motoris bygestaan, maar het tydens hul voortgesette patrollie agtergekom dat hulle deur ’n verdagte voertuig gevolg word.

Volgens inligting het die lede skielik besef dat daar vanuit die verdagte voertuig op hulle geskiet word.

Die motief vir die skietery op die polisievoertuig is onbekend, maar inligting wil dit hê dat daar tot soveel as 15 skote in die rigting van die polisievoertuig gevuur is.

Vyf daarvan het die voertuig getref, waarvan een die voorruit skrams getref het. Die polisiebeamptes is nie ernstig beseer nie.

’n Saak van poging tot moord op twee polisiebeamptes is geopen.

Dit was egter nog nie die einde nie, want steeds op dieselfde Donderdagaand omstreeks 22:45 het twee gewapende rowers ’n bekende vulstasie op die R50 net buite Delmas binnegestap.

Volgens die polisie was die kassier op haar pos binne die winkel op die perseel toe sy skielik twee gewapende mans vanaf die lekkergoed rakke na haar sien aanstap.

Hulle het glo die kassier met die wapens gedreig en geld geëis. Sy het die geldlaai oorhandig, maar die rowers was glo nie tevrede met die buit nie en wou ook sigarette hê.

Terwyl die kassier besig was om sigarette in ’n plastieksak te sit kon sy glo daarin slaag om die paniekknoppie te druk.

Kliënte wat op daardie tydstip in die winkel was, is na die bakkery binne die winkel gedwing.

’n Veiligheidswag het tussen beide getree, maar was glo ook in die rigting van die bakkery gedwing.

Die veiligheidswag het hom teen die rowers verset in ’n poging om die werknemers en kliënte te beskerm.

Die wag is in die proses gewond. Nadat die rowers gevlug het, het die kassier die wag in ’n poel bloed op die vloer gevind.

Die rowers het met ’n onbekende bedrag geld in vermoedelik ’n silwer Toyota van die toneel gevlug. ’n Saak van gewapende roof en poging tot moord is by die Delmas Polisie geopen.

Die groep betogers het intussen ’n daaglikse dreigende gesig in Delmas geword en hoewel nie meer so openlik aggressief nie, word munisipale werkers glo gedreig.

“Daar word gesê dat indien hulle (die betogers) enige van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit se voertuie in die straat sou gewaar, hulle dit sou brand en was daar ook glo reeds bomdreigemnte gemaak.” het ’n betroubare bron Streeknuus meegedeel.

Die burgemeester het die groep glo op 14 Februarie toegespreek, maar teen druktyd kon geen verdere inligting verkry word nie.

Teen druktyd was die munisipaliteit, glo vir die veiligheid van die werkers, gesluit en kon geen dienste gelewer word nie.

Die donker wolk van bedreiging blyk dus nog nie op ’n einde vir Delmas te wees nie.


You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version