Local newsSchoolsStreeknuus

Eldamah Academy verkoop oliebolle ten bate van Downsindroomklas

“Ons wil graag bewusmaking skep en aan ander mammas wat Downsindroom kleingoed het ’n geleentheid bied om hulle kinders in die regte omstandighede te stimuleer. Daar is so baie van hierdie kinders wat by die huis bly en nie die nodige stimulasie kry nie.”

Die Eldamah Academy by Delmas El Kiddo’s het ’n spesiale klassie, spesifiek vir die unieke behoeftes van kinders met Downsindroom, op die been gebring.

As deel van ’n geldinsamelingsveldtog vir Eldamah se Downsindroomklassie is daar vanaf 27 tot 29 Januarie mini oliebolle by Farmers Meat Market op Sundra verkoop.

Die geldinsamelingsveldtog was ’n sukses want die gemeenskap het hul hande en harte oopgemaak vir Eldamah se Downsindroom-leerders.

Die klas het tans vier leerders en ontvang opleiding van Marcha Smit.

Volgens Patrice Pearson, ’n mamma van ’n dogtertjie met Downsindroom wat nou by Eldamah onderrig word, is daar ’n groot behoefte vir so ’n spesiale klas vir kinders in die omgewing.

“Ons Downsindroom-kinders benodig spesiale en intensiewe aandag en dit gaan dikwels in die hoofstroom verlore.”

Geld word egter benodig om die klassie met spesiale leermateriaal en ander toebehore toe te rig om optimum onderrig aan die Downsindroom-leerders te bied.

Monica van Niekerk is die ouma van een van die leerders, Josua.

“Ons wil graag bewusmaking skep en aan ander mammas wat Downsindroom-kleingoed het ’n kans bied om hulle kinders in die regte omstandighede te stimuleer. Daar is so baie van hierdie kinders wat by die huis bly en nie opleiding en die nodige stimulasie kry nie,” het Van Niekerk gesê.

“Marcha is ’n uitstekende onderwyser met soveel passie en liefde vir elkeen van ons kinders. Ons glo dat hierdie klassie nog groter gaan word.

“Omdat die Down-kindertjies soveel individuele aandag benodig, sal die dienste van ’n hulp-onderwyseres ook later ingespan moet word.


LEES OOK: Victor Khanye-kring se nasionale senior sertifikaat-uitslae bekendgemaak


“Ons hoop om op ’n latere stadium elke Downsindroom-kind volgens sy of haar unieke en individuele potensiaal te kan opvoed en stimuleer,” het Van Niekerk verduidelik.

Daar word ook beplan om van die dienste van terapeute gebruik te maak. Volgens Van Niekerk is hierdie kinders leergierig en wil gestimuleer word.

Die klas is by Eldamah Academy El-Kiddo’s in Burgerlaan, Delmas-wes, geleë.

“Enige borge, skenkings of bydraes is welkom,” het Van Niekerk verder gesê.

Enige iemand wat bereid is om ’n skenking te gee of hulp aan te bied, kan vir Van Niekerk by 071 643 6452 te skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button