Local newsStreeknuus

Delmas VLU-tak pak 2023 met nuwe hoop en ywer aan

Die vroue het vol ywer en met hernude hoop op 17 Januarie bymekaar gekom vir die beplanning vir die nuwe jaar.

’n Jaar propvol opwindende gebeure, interessante sprekers, demonstrasies, werkswinkels, uitstappies en sosiale byeenkomste met interessante vriendinne is in die 2023-dagboek van die Vroue Landbou Unie (VLU) Delmas-tak aangeteken.

Die saal van die Hervormde Kerk op Delmas het oudergewoonte die eerste vergadering van die Delmas VLU-tak gehuisves.

Die vroue het vol ywer en met hernude hoop op17 Januarie bymekaar gekom vir die beplanning vir die nuwe jaar.

Die voorsitter van die Delmas VLU-tak, Marié Terblanche het die eerste vergadering met ’n boodskap van bemoediging geopen deur uit 1 Tessalonisense 4:16-18 te lees, “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

“Dis nie ’n maklike opdrag nie, veral in moeilike omstandighede. Paulus herinner ons daarmee hoe Jesus se volgelinge behoort te lewe en dat omstandighede nie ons houding behoort te bepaal nie.

“Dit is eerder ’n volgehoue groei in jou verhouding met jou Skepper en medemens,” het Terblanche tydens die opening gesê.

Terblanche het bygevoeg dat ware rykdom alles is wat geld nié kan koop nie.

“Laat ons in 2023 in voortdurende gesprek met God verkeer. Die sinvolheid van verskillende omstandighede is die wete dat God met ons is en ons die insig, krag en uithouvermoë gee om daardeur te kom.”

Tydens die vergadering was Doret Maritz ook was as nuwe lid verwelkom.

“Doret Maritz het met ’n groot glimlag haar opwagting by die vergadering gemaak. Weens haar betrokkenheid by die gemeenskapsteater verlede jaar, kon sy vanjaar eers by ons aansluit,” het Magriet Swart, skakelbeampte van die Delmas VLU-tak gesê.


LEES OOK: Munisipaliteit herstel vinnig waterlek op Bronkhorstspruit


’n Voornemende lid, Irma du Plessis, het ook as besoeker die dag se verrigtinge bygewoon. Du Plessis sal van Februarie as volwaardige lid betrokke raak waarna sy tesame met twee vriendinne, Hester Vorster en Ina Troskie, maandeliks vanaf Brakpan die vergaderings sal bywoon.

Terblanche het ook Jané Oosterhuis sterkte en spoedige herstel met haar oogoperasie wat sy moet ondergaan, toegewens.

“Ons kon ook almal in die opwindende nuus dat Jané binnekort gaan ouma word, deel,” het Swart ook gesê.

Volgens Swart het die gasvroue tydens die eerste vergadering hul stoutste verwagtinge oortref deur die lede en gaste met ’n bobaas ontbyt te bederf.

“Vrugteslaai met muesli en dubbelroom jogurt en heuning van Highveld Honey Farms, waar ons voorheen ’n besoek afgelê het, afgerond met gesonheidskolwyntjies as ekstra bederfie,” het Swart afgesluit.

Indien u belangstel om deel te word van hierdie dinamiese groep vroue skakel die voorsitter, Marié Terblanche by 083 968 2203.


Related Articles

Back to top button