Weerlig eis bekende sakeman en ontwikkelaar op sy plaas buite Trichardt

Die roudiens vind Saterdag, 4 Februarie om 11:00 vanuit die N.G. Kerk se moedergemeente (die Rondekerk) op Secunda plaas.

Billy te Water (49) van TW Stene is op 29 Januarie deur weerlig doodgeslaan op sy plaas sowat 5km buite Trichardt.

Volgens sy ma, Antoinette te Water, het haar seun oudergewoonte ná kerk na die wilgerbome wat hy sowat twee jaar gelede geplant het, gestap toe die weerlig hom getref het.

Hy was nie onmiddellik dood nie en het sy vrou, Lindie het sy broer, Dewald geskakel.

Niemand kon hom egter help nie en hy is later dood.

Antoinette het gesê sy sal haar seun onthou as iemand wat ’n baie oop mens was met ’n oop hand en ’n hart vir mense.

Hy het hard gewerk en ’n plaas vanaf niks opgebou.

“Dit is baie spesiaal dat hy en sy broer, Dewald, altyd saam gewerk en saam vakansie gehou het,” het Antoinette gesê.

Te Water het vier kinders tussen die ouderdomme van 12 en 17.

Hy was veral bekend as sakeman en ontwikkelaar wat groot bydraes tot Secunda se gemeenskap gelewer het.

Te Water was ook nou betrokke by die jaarlikse Secunda motortydren waarvan ’n gedeelte op sy grond plaasgevind het.

Die roudiens vind Saterdag, 4 Februarie om 11:00 vanuit die N.G. Kerk se moedergemeente (die Rondekerk) op Secunda plaas.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version