Local news

Secunda-digter stel nog ’n digbundel vry

Sy nuutste digbundel sal binnekort beskikbaar wees.

Danie Viljoen, beter bekend onder sy digtersnaam, Von Villon, is onlangs as een van die top 10 digters in Suid-Afrika in die INK dig- en skryfkompetisie aangewys.

Daar het altesaam 780 skrywers aan dié kompetisie deelgeneem. Villon het 10 gedigte geskryf wat vir dié prestasie in aanmerking gekom het.

Sy nuutste digbundel, Liefdesweë, sal binnkort beskikbaar wees. Dié digbundel gaan oor ’n persoon wat sy waarde gevind het in die daad van liefde in plaas van in God.

“As jy jou waarde in God vind, kan jou bedoelinge met ander mense opreg wees,” het Villon gesê.
Liefdesweë bevat 96 gedigte en Villon het so jaar aan dié digbundel, wat sy tweede digbundel is, gewerk.

“Dit is vir my terapeuties.”

Hy het ook in dié tyd die voorreg gehad om saam met die Suid-Afrikaanse skrywer, Marlena Bruwer, skrywer van Die Ander Vrou te werk.

“Sy het die taalversorging vir my digbundel gedoen en insette gelewer,” het Villon gesê.

Nóg ’n Suid-Afrikaanse digter, Driekie Grobler, het gesê Villon se digbundel kan in aanmerking kom vir ’n boekprys.

Von Villon het sy eerste digbundel, Gedagte Duister, verlede jaar vrygestel.

Dié digter vind deesdae sy identiteit in Christus nadat hy ’n paar jaar terug sy dwelmverslawing oorkom het.

Hy bied volgende jaar ’n drie-dae werkswinkel in Gauteng aan wat handel oor hoe om jou lewensmaat te vind en reg te trou.

Hy het reeds sy eerste eksamen van ’n beradingskursus afgelê en hy begin later vanjaar of vroeg volgende jaar studeer om ’n pastoor te word.

Villon werk reeds as berader saam met verskeie gemeentes op Secunda en mense wat berading benodig, kan vir hom ’n e-pos stuur na weetwiejyis@gmail.com.

Hy werk tans aan ’n boekreeks vir kinders wat op kinders tussen ses en 10 jaar oud sal fokus.

Related Articles

Back to top button