CrimeLocal newsStreeknuus

Ontvoerde tuinier eindig naby Delmas op

Die nuus omtrent die ontvoerde tuinier en die verdagte silwer Avanza het vinnig versprei en ’n soektog was van stapel gestuur.

’n Ontvoerde tuinier en ’n video waar die tuinier vanuit ’n voertuig probeer ontsnap terwyl ’n petroljoggie oënskynlik toekyk, het sosiale media platforms aan die gons gehad.

Die gebeure wat hierna op 19 Januarie gevolg het, klink soos iets uit ’n storieboek.

Glenten van den Heever van eMalahleni (voorheen Witbank), was glo op 19 Januarie besig om op ’n sypaadjie by ’n huis in Reyno Ridge in eMalahleni te werk, toe drie vermeende ontvoerders by hom gestop het.

Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy plantjies van hulle wou steel. Van den Heever is na bewering geboei en in die ontvoerders se voertuig gedwing.

Die verdagtes het hierna glo met Van den Heever deur die strate van eMalahleni gery waarna hulle by ’n vulstasie op eMalahleni gestop het om brandstof in te gooi. Kort daarna het videomateriaal van die Engen Broadway

Motors in eMalahleni soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Hierin kon slegs gesien word hoe Van den Heever met alle mag probeer het om uit die verdagtes se voertuig te ontsnap, maar weer hardhandig deur die vermeende ontvoerders in die voertuig terug geforseer is. Dit alles terwyl ’n petroljoggie oënskynlik toegekyk het.

Die nuus omtrent die ontvoerde tuinier en die verdagte silwer Avanza het vinnig versprei en ’n soektog was van stapel gestuur.

“Ek was toevallig by die Delmas Polisiestasie toe die oproep ingekom het dat daar ’n man by die Redstar-vulstasie aan die N12 net buite Delmas is. Volgens die man was hy glo die slagoffer van ’n ontvoering in Witbank,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas Valke Buurtwag, gesê.

“Kaptein Salomé van der Westhuysen het dié oproep ontvang. Daar was egter op daardie stadium geen polisievoertuie by die stasie beskikbaar nie. Ek het aangebied om Kaptein Carla Harley en Van der Westhuysen na die toneel te neem,” het Botha vertel.

“Met ons aankoms by die vulstasie was die man erg getraumatiseerd.”

Volgens Botha het Van den Heever skaaf- en kneusmerke aan sy gewrigte gehad.

“Die merke is deur die boeie veroorsaak.”

Volgens Botha het hy en die twee kapteins die man na die Delmas Polisiestasie geneem waar hy ondervra is en meer inligting rondom die beweerde ontvoering verkry is. Die saak is na die Witbank Polisie oorgedra.

Volgens betroubare inligting het Van den Heever onder andere glo beweer dat die vermeende ontvoerders gedreig het om hom ‘op te tjop en in ’n dam te gooi’.

Volgens ’n mediaverklaring uitgereik deur Kaptein Eddie Hall van die Witbank Polisie, het die drie verdagtes hulself op 20 Januarie om 01:00 by die polisie in eMalahleni oorgegee. Daar was ook beslag gelê op die silwer Toyota Avanza.

Die eienaar van Engen Broadway Motors op eMalahleni, Chris Coetzee, het Streeknuus meegedeel dat hy baie ongelukkig is oor die video wat versprei is en dat dit slegs ’n halwe waarheid oorgedra het.

Hy het verder gesê dat hy die waarheid in ’n eksklusiewe onderhoud met Streeknuus se susterskoerant Witbank Nuus gedeel het.

Witbank Nuus het berig dat Coetzee tydens die onderhoud met die koerant onthul het dat Van den Heever om hulp geskreeu het en dat Coetzee met die ontvoerders probeer onderhandel het waarna hy die polisie gekontak het.

Witbank Nuus berig verder ook dat die petroljoggie wat op die video gesien kan word, opsetlik van vertragingstegniek gebruik gemaak het in afwagting vir die polisie se aankoms op die toneel. Volgens Coetzee is dit deel van die personeel se opleiding.

Die polisie het, volgens Coetzee, binne twee minute op die toneel, maar die Avanza was reeds weg.

Streeknuus het intussen ook gepoog om met Van den Heever in kontak te kom, maar kon teen druktyd nie daarin slaag nie.


Related Articles

Back to top button