Lego-blokkies se aangename kinderdae-herinneringe was weer deel van ’n prag-uitstalling by Laerskool Delmas.
Gemeet aan die standaard van vanjaar se uitstalling, is die Lego-stokperdjie egter nie net meer ’n paar blokkies in primêre kleure in ’n emmertjie nie.
Dit het hoogs gesofistikeerd geword en bied eindelose moontlikhede vir oud en jonk.
Die Johannesburgse Lego-klub (JHBLU) het weer vir groot vermaak en spanningsvolle spoedbou-kompetisies op Saterdag, 10 September in die saal van Laerskool Delmas gesorg.
Deelnemers het van ver gereis om vir die inwoners en kinders van Laerskool Delmas te kom wys waaroor hedendaagse Lego gaan.
Daar is ook weer ’n spoedbou-kompetisie gehou waartydens deelnemers van instruksies voorsien is en dan die projek vinnig en korrek moes voltooi.
Die deelnemers wat die artikel eerste binne ’n sekere tyd kon voltooi, het met groot pryse, in die vorm van Lego-stelle, weggestap.
Vir die entoesiaste van Lego-bou gaan dit egter nie net oor die vervullende stokperdjie nie, maar ook oor die uitreik na gemeenskappe.
Vanjaar se kaartjieverkope se volle opbrengs gaan aan Rainbow and Smiles, ’n nie-winsgewende organisasie wat kinders met kanker bystaan.