Municipal

Bronkhorstspruit inwoners se drinkwater stroom die strate af

Dit lyk nou al vir sewe dae soos ’n dam voor ’n mediese sentrum op die hoek van Botha en Joubertstraat. Inwoners kom met emmers en houers om water te skep.

Die inwoners van Bronkhorstspruit is behoorlik rooi onder die kraag, want in groot gedeeltes van die dorp is daar geen of min water in die krane.

Van die pompe by die watersuiweringsaanleg is glo ook buitewerking wat tot verdere probleme in die voorsiening van water lei. Daar is tans net een werkende pomp en reservoirs loop vinnig leeg.

Inwoners kan nie bad nie, nie toilette spoel of kos kook nie

Munisipale werkers kan dit glo nie waag om herstelwerk aan die vier beskadigde hooftoevoerlyne te doen nie omdat hulle glo gedreig en belet word om hul kantore by die munisipaliteit binne te gaan.

Die lisensiekantoor is ook gesluit.

’n Betroubare bron het laat hoor dat hy by ’n gesprek betrokke was waar ’n amptenaar gedreig is dat indien hy dit sou waag om die munisipale gebou binne te gaan, hulle hom in sy motor sou brand en dat hulle weet waar hy bly.

Die plaveisel aan die verbrokkel weens die water wat reeds vir sewe dae opdam op die hoek van Botha- en Joubertstraat.

Die oproermakers wat weier dat munisipale amptenare hul werk voorsit, blyk lede van die Regional Mining Committee te wees.

Streeknuus het ook aan die groep navraag gerig en wag op terugvoer.

Intussen duur die waterprobleem voort en stroom skoon water soos riviere in die strate van Bronkies af.

“Ek werk by ’n mediese sentrum op Bronkhorstspruit op die hoek van Botha en Joubertstraat. Dit lyk nou al vir sewe dae soos ’n dam hier voor ons plek.

“Inwoners kom met emmers en houers om water te skep. Kinders speel selfs daarin. Die sypaadjie verbrokkel, iemand kan seerkry,” het Madaleen Roets gesê.

“Die reservoirs is byna leeg. Groot gedeeltes van die dorp is reeds sonder water en ek voorspel dat teen die einde van vandag daar glad nie meer water gaan wees nie,” het ’n ander ontstoke inwoner laat hoor.

Streeknuus het intussen ook by Tshwane wat Bronkhorstspruit bedien navraag gedoen rondom die waterkrisis en wag op terugvoer.

Hierdie is ’n ontwikkelende storie, lees meer in Streeknuus se uitgawe van 19 September.

Amokmakers veroorsaak dat munisipale amptenare nie die gebou kan binnegaan nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button