CrimeStreeknuus

Intelligensie-operasie lei tot groot sukses op Delmas

Klopjagte lewer diesel wat vermoedelik gesteel is, ’n ongelisensieerde vuurwapen en dwelms op.

’n Multidissiplinêre operasie wat uit lede van die polisie se eenheid vir misdaad intelligensie, Delmas Polisie, Middelburg K9-eenheid sowel as lede van AfriForum se Delmas Valke Buurtwag-reaksiespan bestaan het, het onlangs vir dié operasie byeengekom.

Die groep het reageer op inligting wat bekom is oor onwettighede op Delmas en het by drie verskillende adresse gaan aanklop.

By die eerste huis is ’n 54-jarige in hegtenis geneem vir die besit van ’n ongelisensieërde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is. Daar is ook op twee rondes vir ’n 9mm-pistool, versteek onder ’n matras, afgekom.

By hul volgende stop is op 32 stukke vermoedelik kokaïen, en 18 knippies (pinches), ook vermoedelik kokaïen, beslag gelê.

Die klopjag het ook twee plastiese sakke gevul met dagga en ’n onbekende bedrag kontant opgelewer. Hier is ’n 56-jarige verdagte in hegtenis geneem.

Die span het hul operasie op ’n hoë noot afgesluit deur twee burgers van Zimbabwe in hegtenis te neem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

In hul besit was drie 210-liter dromme gevul met diesel met ’n waarde van sowat R30 000.

Volgens die polisie kon die twee Zimbabwiërs nie met enige bewyse vir die aankoop van die diesel vorendag kom nie en is hulle gevolglik in hegtenis geneem.

Die polisie het verder bevestig dat hulle saam met die Departement van Binnelandse Sake werk om die status rondom die twee se teenwoordigheid in Suid-Afrika te ondersoek.

Verdere klagtes wat verband hou met die oortreding van die immigrasiewet is nie uitgesluit nie.

Die provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, Luitenant-Generaal Semalakeng Daphney Manamela het die span vir hulle deeglike spanwerk bedank.

Manamela het gesê dat deur die span se deeglike werk ’n dodelike wapen uit die verkeerde hande verwyder is en vermoedelik gesteelde diesel teruggevind is.

Manamela het voorts genoem dat sy die aksie waartydens moontlike dwelms uit die gemeenskap verwyder is, baie waardeer.

Die voorsitter van AfriForum se Delmas Valke Buurtwag, Carel Botha het bygevoeg dat hy trots is op die buurtwag se reaksiespan.

“Hulle toewyding en vrywillige bystand aan die SAPD sorg gereeld vir groot suksesse.”


Related Articles

Back to top button