CrimeStreeknuus

Kabeldiewe speel woer-woer op Delmas

“Slegs kort stukkies kabel word op ’n slag geknip, maar die ongemak en kostes daaraan verbonde, is wat die inwoners woedend maak.” - Diane Bath, DA-raadslid.

Episodes van kragloos wees ná beurtkrag tref die inwoners van Delmas-wes redelik gereeld sedert die einde van Junie.

Buiten vir Eskom se gereelde beurtkrag-instellings, moet die inwoners van Delmas-wes boonop ook met donkerte, weens kabeldiefstal, spook.

Dit blyk ‘n tendens te wees dat diewe elektriese kabels knip en steel terwyl die stelsel tydens beurtkrag as ‘veilig’ beskou word.

Dit het eers net in Dunbarstraat en meestal snags plaasgevind, maar het vinnig uitgebrei na ander strate in dié spesifieke gebied van Delmas.

Verskeie voorvalle in die dag is ook aangemeld.

Geknipte elektriese kabels in Delmas-wes.

Intussen het daar ook onbevestigde inligting aan die lig gekom dat daar twee mans by die diefstal betrokke is.

Hulle [die verdagtes] wag glo by ‘n sekere winkel op die dorp. Hier word inligting rondom beurtkrag-tye verkry en wanneer die dorp in donkerte gehul is, slaan hulle toe.

Gedurende die vroeë-oggend­ure van Dinsdag, 9 Augustus het die kabeldiewe ook hul kriminele aktiwiteite na die res van die dorp uitgebrei.

Verskeie kabels was reeds geknip, maar ‘n paar parate lede van die AfriForum Valke Buurtwag het dié diewe in hul spore gestuit.

Kabels en gereedskap is op die toneel agtergelaat.

Die kabeldiewe het die groep egter ontglip.

“Kabeldiefstal maak die gemeenskap woedend en die skelms moet gevang word,” het Diane Bath, DA-raadslid by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) gesê.

“Slegs kort stukkies kabel word op ‘n slag geknip, maar die ongemak en kostes daaraan verbonde, is wat die inwoners woedend maak.”

’n Stuk gereedskap wat in die oggendure van 9 Augustus deur kabeldiewe agtergelaat is. Foto: Grewar Biermann

Dit is egter nie net Delmas wat deurloop onder kabeldiewe nie.

Ook die inwoners van Sundra, Eloff en Rietkol gaan gebuk onder die ongerief en skade wat die diewe veroorsaak.

Bath het die buurtwagte te bedank.

“Baie dankie aan ons onderskeie buurtwagte wat die polisie bystaan in hul taak om die booswigte vas te trek.

“Ek glo as dit nie vir hierdie veiligheidstrukture was nie, sou die misdaadsyfers selfs meer buite beheer gewees het.

“Namens die onderskeie VKLM-gemeenskappe wil ons ieder en elk bedank wat in hul vrye tyd patrollies ry, ons waardeer en salueer julle,” het Bath afgesluit.

Die werk van kabeldiewe in Delmas. Foto: Grewar Biermann

Met betrekking tot die vlaag kabeldiefstalle op Delmas, maar veral Delmas-wes, is die AfriForum Valke Buurtwag gereed om met die samewerking van plaaslike veiligheidsmaatskappy en die polisie die kabeldiewe vas te trek.

“Ek bedank ook elkeen van ons lede, plaaslike veiligheidsmaatskappye en ons plaaslike polisie wat saamwerk om hierdie manne vas te trek.

“Ons buurtwag-lede offer hul slaap op om snags en in die oggendure patrollies te ry, maar ons glo dat dit vrugte sal afwerp,” het Carel Botha, voorsitter van die Valke Buurtwag, gesê.

“Danksy ons buurtwaglede onder leiding van ons veiligheidshoof, Jaun Herholdt, se onbaatsugtige opoffering en deurnag-patrollies, glo ek dat die kabeldiewe se woer-woer-speletjies binnekort tot ‘n einde sal kom.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button