Dellies doen hul deel vir ’n dapper Talitha

Almal het dit eens – Talitha, met die ondersteuning van haar ouers, boeties, sussies en die gemeenskap, is ’n baie dapper klein vegter.

Laerskool Delmas het op 25 Oktober hul deel bygedra ten bate van Talitha Berg (5), ’n kankerlyer vanuit die Delmas-gemeenskap.

Dit was pienk Vrydag, vrolik, maar tog het leerders hul beskeie bydrae gelewer om sodoende hul steun aan die Berg gesin te wys.

Vroegoggend was daar ’n muntlegging gehou om broodnodige geld in te samel om by te dra tot Talitha se ouers, Albert en Tanja Berg, se astronomiese mediese uitgawes en daaglikse reiskostes na- en van die Unitas Hospitaal waar die klein kankerlyer sedert September daagliks chemoterapie ontvang.


Talitha Berg, Elardu Coetzer en Lihan Naudé bekyk die haarknippery by Laerskool Delmas.

Later die dag het van die seuns se hare ook gewaai. Carel Smith, onderwyser by Laerskool Delmas, het gereed gestaan met sy knipper en leerders kon vrywillig die stoel inneem om hul hare te skeer – dit ook om hul ondersteuning vir Talitha te wys.

Onderwysers het ook met gekleurde haarsproei onder die leerders ingespring en elkeen wat wou se hare of kaalkoppe was vrolik getooi vir pienk Vrydag.

Groot was die verassing toe die ster van die dag, Talitha saam met haar ma Tanja, by die skool opgedaag het.



Ten spyte van die chemoterapie wat sy tans ontvang, was Talitha die ene liefde, vol drukkies en glimlaggies. Nog ’n groot hoogtepunt van die dag se gebeure was toe ‘meneer Smit’ die stoel moes inneem met Talitha in beheer van die knipper.

Tussen die handeklap en groot opwinding van die spesiale oomblik het daar baie trane gerol, want almal het dit eens – Talitha, met die ondersteuning van haar ouers, boeties, sussies en die gemeenskap, is ’n dapper klein vegter.

Albert en Tanja bedank Laerskool Delmas, waar Taltitha se broers Pedri, Joach en suster, Zanri, leerders is, vir hul bydrae tot Talitha se behandeling uitgawes.

“Dankie Laerskool Delmas – ons harte is vol liefde en ons beker loop oor van dankbaarheid”.


Exit mobile version