Local newsNewsSchoolsStreeknuus

Dellie-leerders leer om boeliery te bekamp

“Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe.”

AfriForum se teenboelie veldtog span tesame met hul gelukbringer, Matteus, het onlangs in samewerking met Solidariteit Helpende Hand by die Laerskool Delmas besoek afgelê.

Dié veldtog dien as bewusmaking van boelie gedrag in skole en sowat 800 leerders was tydens die besoek toegespreek.

Volgens AfriForum het hul boodskap, geïnspireer deur die konsep van die ‘volle wapenrusting van God’, diep inslag by die leerders gevind.

“Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en te hanteer,” het Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum, gesê.

“Vir sewe jaar reeds bemagtig ons skole landwyd met hierdie veldtog. Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel,” het Leandie Bräsler, gemeenskapsforum koördineerder by AfriForum gesê.

“Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe”.

“Onderwysers word nie opgelei hoe om boelie gedrag en alles wat daarmee gepaardgaan te hanteer nie. Daar moet bewusmaking geskep word, sodat onderwysers en kinders ’n beter begrip het van waarom boeliegedrag voorkom moet word en hoe om dit so goed as moontlik te hanteer”.

“Kinders verdien dit om so ryk as moontlik aan inligting te word sodat hulle beter besluite kan maak en vaardighede kan leer wat hulle nie net in hulle kinderlewe kan gebruik nie, maar ook vir wanneer hulle eendag die volwasse lewe betree,” het Yolandi Singleton, ’n maatskaplike werker en hoof van Helpende Hand se Ons Sentrum in die noorde van Pretoria, bygevoeg.

Volgens AfriForum verder het die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) in 2020 berig dat ongeveer een uit elke vyf tieners in die land slagoffers van kuberboelie is. Dit kan hul geestelike gesondheid ernstig kan beïnvloed.

Ouers kan kuberboelie bekamp deur hul kinders op te voed en in te lig oor wat kuberboeliery is en waarom dit skadelik is, terwyl hulle oop kommunikasie handhaaf sodat kinders vry voel om enige vorm van boeliegedrag te rapporteer.


Yolandi Singleton van Solidariteit Helpende Hand, spreek Dellie leerders toe.

Deur sagte toesig oor sosialemediagebruik te hou en gepaste privaatheidstellings in plek te stel, kan ouers verseker dat hul kinders veiliger aanlyn verkeer.

Daarbenewens kan ouers skermtyd beperk en gesonde aktiwiteite aanmoedig om kinders weg te hou van moontlike boeliery.

Ouers moet kinders verder ook aanmoedig om kuberboeliery te rapporteer en die betrokke boelies te blokkeer, terwyl hulle emosionele ondersteuning bied.

Indien nodig, moet professionele hulp gesoek word om die impak van boeliegedrag te verwerk. Hierdie stappe help om ’n veilige en ondersteunende aanlyn omgewing vir kinders te skep.

Vir meer inligting oor die teenboelie veldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button