VLU Kaalspruit-lede sit hul beste hoede op

Die vroue van die VLU Vaalrivier-tak het hul gunsteling sonhoede afgestof vir hul maandelikse vergadering wat op 1 Oktober plaasgevind het.

Die vroue van die VLU Kaalspruit-tak het op 1 Oktober by die Hervormde Kerk op Standerton vir hul maandelikse vergadering bymekaargekom.

Die tema vir die byeenkoms was sonhoede en elke vrou het die gebou ingestap met hul gunsteling hoede.

Hulle het allerei onderwerpe bespreek, insluitend hul kompetisies vir die maand. In September het die vroue grondboontjie kraaklekkers ingehandig vir hul takkompetisie. Die kompetisie gaan egter herhaal word weens weerveranderinge.

“Die geringste verandering in die weer veroorsaak dat die kraaklekkers smelt. Ons is egter besig om te eksperimenteer deur die lekkers in selofaan sakkies te verpak,” het Marietjie Swart, voorsitter van die tak gesê.

Swart, Hannah du Toit en Santie Cawood het ingeskryf vir die gestolde pynappelslaai kompetisie. Die VLU lede het ook die romantiese werke van hul skrywer van die jaar, Lizelle von Wielligh, bespreek.

Marinda Visser het die verversings vir die dag verskaf. Op die spyskaart was ’n kraakvars tunamengsel. Na die tyd kon die vroue ’n heerlike kitspoedingtert en vingerhappies geniet.

Die VLU Kaalspruit-tak se volgende vergadering is op 22 Oktober waar Roz du Preez gaan demonstreer hoe sy op blare borduur.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version