Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Meganiese foute dwing tandem-trappers van Eloff om handdoek in te gooi

Voortgesette tegniese probleme met die fiets se ratte en nog ’n gebreekte speek het egter sy tol geëis en die Langermans het besluit om na 710km halt te roep.

Uitmergelende opdraendes, ongustige weersomstandighede met stormsterk winde en veral tegniese probleme met gebreekte speke, ratte en remme het daartoe gelei dat die Langerman egpaar hul tandemfiets Trap vir Laerskool Eloff #2 vroeër moes stop.

Lambert en Nicolene Langerman het op 20 September by Laerskool Eloff op hul tandemfiets weggespring.

Dié afskop van hul tog was egter traumaties – dit was slegs 6ºC en die wind was baie sterk. Die oorspronklike plan was om 1 100 km oor nege dae op hul tandemfiets af te lê.

Die roete sou insluit Bethal, Secunda, Ermelo, deur Swaziland na Baberton, Kaapsehoop, Dullstroom, Loskopdam na Bronkhorstspruit en weer terug na eie bodem.


LEES OOK: Watch out for snakes this summer says Standerton snake catcher


Op dag een moes die paartjie egter op Evander halt roep weens die gevaarlike sterk winde en ysige koue.

Dominee Evert Berg en sy vrou Ranelda het vir die Lamberts oornagplek in Bethal aangebied waarna hulle tot in Piet Retief gevorder het.

Hulle het op 22 September via Piet Retief deur die grens na Swaziland gegaan.

Oor ’n tydperk van vier dae en oor berge en deur dale het die baie stof skade aan die fiets se remme en ratte versoorsaak en hulle het ook ’n speek verloor.



Die twee het op 26 September in Kaapsehoop aangekom.

Voortgesette tegniese probleme met die fiets se ratte en nog ’n gebreekte speek het egter sy tol geëis en die Langermans het besluit om na 710km halt te roep.

Volgens Lambert was dit slegs die tegniese probleme met hul fiets wat hul vanjaar lam gelê het.

“Die weer was eers baie sleg, maar het later verbeter. Die probleme met die fiets was egter net te oorweldigend,” het Lambert laat hoor.


LEES OOK: Red Star Runners Athletics Club hosts athletes from all over the country


“Dit wás ’n moelike een, maar tog ook baie lekker.”

Die Langermans het ook hul dank uitgespreek teenoor elkeen wat langs die pad moed ingepraat en gehelp het, asook vir elke bemoedigende boodskap wat hulle ontvang het.

“Die ondersteuning en bemoediging het ons heelpad gedra.”

Op ’n vraag aan Lambert of hulle die tandem-tog in 2025 weer sou aanpak, was die antwoord: “Daar is beslis ’n moontlikheid, ons is geensins gebreek nie en geniet dit ongelooflik baie.”



Laerskool Eloff se hoof, Louise van Niekerk het gesê die Loffies salueer die egpaar vir hul fantastiese poging.

Die Langermans het vanjaar vir die tweede keer die lang pad gevat ten bate van ’n geldinsamelingsveldtog vir Laerskool Eloff.

Soos berig in Streeknuus, 27 September, het die paar vanjaar se rit aangepak om geld in te samel vir die opgradering van Loffies se robotikaklas en tegnologie opgradering.

“Ons nooi almal om steeds jul waardering te wys deur bydraes te maak op Trap vir Laerskool Eloff 2 se BackaBuddy blad. Lambert en Nicolene, julle is kampioene,” het Van Niekerk ook gesê.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button