CrimeLocal newsNewsStreeknuus

Vrou van Bronkies helder oordag in huis aangeval

Hy het hierna op die slapende seuntjie op die bank afgestorm, moedersinstink het egter ingeskop en volgens Lerieche was sy voor hom by die bank en het die seuntjie in haar arms opgetel.

“Ek kom weer terug, ek is nog nie klaar met jou nie,” was wat ’n aanvaller vir Lerieche Rossouw, ’n nuwe intrekker op Bronkhorstspruit gesê het nadat hy haar in haar huis aangeval het.

Dié huisvrou en ma van drie jong kinders was by haar huis in Riamarpark deur ’n vreemdeling aangeval en drie keer met ’n onbekende voorwerp gewond.

Die voorval het op 17 September omstreeks 10:15 plaasgevind. Op die bank in die sitkamer het die sestien maande-oue seuntjie Yannick rustig geslaap en Lerieche het vloere gemop.

Uit die hoek van haar oog het sy gesien hoe die mangat in die plafon beweeg. Sy het dadelik haar man, Marcel, gebel wat in Bapsfontein werk.

Volgens Marcel het hy haar aangeraai om te ry en ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, wie se bakkie gewoonlik in die omgewing staan, van die gebeurtenis te gaan in kennis stel.


Dae nadat Lerieche Rossouw in haar huis in Riamarpark, Bbronkhorstspruit aangeval is, herstel die wonde aan haar arm.

Dit het glo egter weer stil geraak en Lerieche het met haar take voortgegaan. Die mangat het weer geroer, maar ook weer het dit stil geraak.

Volgens Lerieche het dit die heeltyd gevoel asof iets of iemand haar bewegings binne die huis vanuit die plafon volg.

Lerieche intussen in kontak met Marcel gebly.

Marcel het intussen die polisie op Bronkhorstspruit gebel. Hulle het met Lerieche in aanraking gekom, maar sy het hulle meegedeel dat alles op daardie oomblik in orde was.

Sy het egter wel vir Yannick ’n bottel gemaak en dié saam met ’n doek na die kar geneem – reg om na die sekuriteitsmaatskappy se patrollielid te ry sou dit nodig wees.


Lerieche se arm waar sy met ’n onbekende wapen op haar linkerarm gewond is.

“Ek het Yannick se spoegdoek vergeet en dit ook kar toe gevat. Toe ek terug in die huis kom het daar ’n man op my gewag,” het Lerieche vertel.

“Hy het iets teen my gesig gedruk en vir geld gevra. Ek het R50 aan my gehad. Hy het gesê dat dit kleingeld is en vir my gevra waar die kluis is.”

Volgens Lerieche het sy die vreemdeling meegedeel dat daar nie ’n kluis in die huis was nie. “Hy het egter in duidelike terme, so asof hy al vantevore in die huis was, verduidelik waar die kluis in die slaapkamer se kas is.”

“Ons was kamer toe, maar daar waar hy die kluis wou hê, was niks. Ek vermoed dat die vorige inwoners dalk ’n kluis gehad het en hy daarvan kennis dra.”

Leriche het verder vertel dat die man baie rustig was, maar nadat hy nie die kluis kon kry nie, het sy houding en stemtoon verander.


LEES OOK: Disabled man from eMbalenhle needs shelter


Hy het hierna op die slapende seuntjie op die bank afgestorm, moedersinstink het egter ingeskop en volgens Lerieche was sy voor hom by die bank en het die seuntjie in haar arms opgetel.

In die proses het sy ’n snywond in haar gesig opgedoen en twee oor haar linkerarm. Die man het hierna by die voordeur, wat steeds oop was, uitgevlug en Lerieche met Yannick en die R50 agterna.

“Ek het geen idee hoe hy op die erf en in die plafon gekom het nie en ook geen idee hoe hy uitgekom het nie.”

Lerieche het vir Marcel vertel wat gebeur het en na die sekuriteitspatrollie lid gery wat haar na hul huis vergesel het. Die polisie het ook kort daarna op die toneel opgedaag, terwyl Marcel van Bapsfontein huis toe gery het.

Lerieche is na ’n kliniek op die dorp geneem waar sy steke in die dieper wond aan haar arm gekry het. Teen druktyd het Lerieche bevestig dat die wonde herstel, maar dat sy nooit weer dieselfde sal wees nie.


Lerieche hier op die bank waar haar 16 maande-oue seuntjie geslaap het toe sy in hul huis op Bronkhorstspruit aangeval is.

“Die ervaring was traumaties, ek het so geskrik dat ek nie ’n woord Engels kon praat nie. Die aanvalller het heeltyd met my in Engels gepraat en ek het met hom in Afrikaans gekommunikeer.”

Die wapen kan Lerieche nie werklik beskryf nie; alles het net té vining gebeur.

“Ek is net baie dankbaar dat Yannick niks oorgekom het nie.”

Intussen bly die aanvaller se woorde, naamlik dat hy terugkom, met haar. Die gesin het glo ook intussen by Wet Nose gaan kuier waar hulle ’n boerboel-kruising hond aangeneem het.

“Hy gaan binne in die huis by my bly en ook in die huis slaap.”

Streeknuus kon bevestig dat geen inhegtenisname nog gemaak was nie.




LEES OOK: AfriForum versoek VKLM om betalingsooreenkoms met Rand Water te onderteken

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button