VLU-vroue op Standerton bekyk wonderpot

Die vroue van die VLU-Vaalrivier tak het bymekaargekom om ’n fantastiese demonstrasie en heerlike verversings te geniet.

Die vroue van die VLU-Vaalriviertak het op 10 September om die kombuistafel vergader vir ’n demonstrasie.

Monica Swart het opgetree as gasheer vir die byeenkoms en verversings is verskaf deur Gerda Büter, Hannatjie Swartz en Lucille van der Linde.

Die kombuis was gevul met ‘Oehs en Ahs’ en af en toe ’n ‘Aitsa!’ soos René van Aswegen haar wonderpot, die Thermomix, aan die vroue gedemonstreer het.

Dié indrukwekkende kombuisinstrument vat die plek van talle apparate en kan funksies uitvoer soos meng, sny, deeg knie, kook en soveel meer.

“Ek het selfs al my eie grondboontjiebotter gemaak,” het Van Aswegen verduidelik.


Die wonderpot.

Die vroue kon ’n glasie vars suurlemoensap geniet na die eerste demonstrasie. Om die masjien uit te was vir die volgende gedeelte van die vertoning was geen probleem nie, siende dat die masjien homself nog was ook.

Volgende het die vroue geleer hoe om sop in die pot aanmekaar te slaan.

Heerlike reuke het in die lug gehang soos die vroue bespreek het wie moontlik aan so ’n slim kontrêpsie kon dink.

Was dit ’n vrou, was dit ’n man?

“Dit moes die vrou wees wat agter die man gesit het,” het Gerda Büter gespot.

Die volgende VLU-Vaalriviertak vergadering sal op 8 Oktober plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version