AfriForum versoek VKLM om betalingsooreenkoms met Rand Water te onderteken

AfriForum het ’n beroep op die Victor Khanye-munisipaliteit gedoen om verantwoordelikheid te neem vir die regstelling van die huidige finansiële wanbestuur en om te verseker dat proaktiewe stappe geneem word om hierdie krisis spoedig op te los.

AfriForum het ’n dringende skrywe aan die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) gerig wat die munisipaliteit maan om onmiddellik behoorlike betalingsooreenkomste met Rand Water (RW) te onderteken.

Volgens die organisasie spruit hul bekommernisse uit die onlangse kennisgewing wat aandui dat die munisipaliteit se totale skuld aan RW meer as R400m beloop en dat die munisipaliteit nie daarin kon slaag om behoorlike betalingsooreenkomste met RW te sluit nie.

“RW dreig nou om die waterdruk teen 17 September met 20% te verlaag wat die gemeenskappe van Delmas, Eloff, Sundra en Rietkol sal beïnvloed.”

In die brief wat op 9 September aan die VKLM gestuur is, het AfriForum versoek dat die munisipaliteit nou saam met die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) moet werk word om ’n behoorlike betalingsplan met RW te beding ten einde te verseker dat kritieke waterdienste ononderbroke bly.

“Die potensiële impak van verminderde waterdruk is verreikend. Plaaslike ondernemings sal aansienlike finansiële verliese in die gesig staar, skole kan gedwing word om te sluit en die alledaagse lewe van inwoners sal ernstig ontwrig word,” het Hennie Bekker, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gesê.

AfriForum het verder ook die VKLM daarop gewys dat die huidige manier waarop hy beurtwater toepas as ’n bewys dien dat die gemeenskap se watertoevoer reeds onder groot druk verkeer.


Die Victor Khanye Plaaslike Munisipaiteit draai elke aand die waterkleppe toe.

“Inwoners kan nie aand na aand sonder water wees nie. Die munisipaliteit se toevoer is só erg onder druk dat kleppe elke aand toegemaak moet word om ander mense ook van water te voorsien.”

AfriForum het ’n beroep op die VKLM gedoen om verantwoordelikheid te neem vir die regstelling van die huidige finansiële wanbestuur en om te verseker dat proaktiewe stappe geneem word om hierdie krisis spoedig op te los.

Streeknuus het intussen ’n skrywe aan die munisipale bestuurder van die VKLM gerig waarin redes gevra word vir die ‘beurtwater’ wat reeds sedert April 2023 in Delmas toegepas word.

Streeknuus het verder om kommentaar gevra rondom die beplande vermindering van 20% in watertoevoer deur RW na Delmas en omliggende gebiede.

Teen druktyd en slegs enkele ure voor die aangekondigde vermindering van watertoevoer na VKLM het Streeknuus egter geen terugvoer vanaf VKLM ontvang nie.

Streeknuus kon verder ook bevestig dat sedert RW die kennisgewing rondom die watertoevoer vermindering op 6 September uitgereik het, daar nog geen formele kennisgewing deur die munisiplaiteit aan sy inwoners gekommunikeer is nie.



LEES OOK: Mkhonza twins are still waiting for their promised house in eMzinoni

LEES OOK: Your tops and tags can make a difference for Bronkhorstspruit

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version