Local newsNewsStreeknuus

Vlamme verwoes duur trekker op plaas naby Delmas

“Die wind was stormsterkte. Dit het groot spronge gemaak en in die proses is die trekker in die vuur vasgekeer waar dit totaal deur die vlamme verwoes is.”

’n Verwoestende brand het op 14 September groot skade op die plaas van Chris en Naubie Rossouw aangerig.

Volgens Chris het die brand omstreeks 11:00 ontstaan.

“Ons is nie seker waar die brand ontstaan het nie, maar dit kon vermoedelik van een van die plotte oorgewaai het,” het Naubie gesê.

Volgens die Rossouws het hulle dadelik ’n trekker gestuur in ’n poging om die verspreiding van die vlamme te keer.

“Die wind was stormsterkte. Dit het groot spronge gemaak en in die proses is die trekker in die vuur vasgekeer waar dit deur die vlamme verwoes is.”

“Dit is baie groot skade, want dié John Deere is sowat R10m werd. Ons het verder sowat 250ha kosbare weiding verloor – dit is katastrofies, veral in ’n droë jaar soos dié,” het Chris gesê.

Volgens Chris is daar ook skade aan pale en drade en moet dit alles vervang word. Die Rossouws het Streeknuus meegedeel dat die bystand en hulp vanuit die gemeenskap oorweldigend was.

Die Delmas brandweer was op die toneel, maar so ook die brandspanne van Eloff- en Sundra se buurtwagte.

“Wat ons besonder na aan die hart lê en waarvoor ons baie dankbaar is, is die hulp wat die inwoners van die Jerigo Opheffingsoord op Eloff gegee het.”


LEES OOK: Foundation members build community centre in eMbalenhle


“Daardie mense het gehelp om vuur te slaan; hulle het nie opgegee nie en dit word opreg waardeer.”

Die brand het tot 00:30 die volgende oggend voortgeduur.

Volgens Naubie het hulle selfs na kerk op die Sondag nog oproepe ontvang om te sê dat dit steeds plek-plek brand en moes daar weer vuur geslaan word.

“Ons hoop en bid nou vir reën met die wete dat daardie pikswart gebrande aarde weer gou groen sal wees.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button