Local newsNewsStreeknuus

Is daar ’n slang in die gras by die Kosmos Aftreeoord op Sundra?

Verskeie van die klaers het glo weens die onuithoudbare omstandighede Kosmos verlaat.

Na aanleiding van die dood van Paul Roos (74), voormalige inwoner van die Kosmos Aftreeoord op Sundra, het nog klagtes Streeknuus bereik.

Skriftelike klagtes het die lig gesien waarin daar oor die opsigter van Kosmos, Rudi du Toit, se beweerde vernederende, intimiderende en swak taalgebruik deur inwoners gekla word.

Inwoners het onder meer oor sy beweerde vieslike taalgebruik gekla en sy vernedering van inwoners voor ander.
Verskeie van die klaers het glo weens die onuithoudbare omstandighede, Kosmos verlaat.

Een inwoner was onder meer versoek om haar blyplek te ontruim. Probleme sou glo ontstaan weens Du Toit se beweerde bombastiese houding teenoor inwoners.

“Die inwoners is bang vir hom,” lui die skriftelike verklaring.

“Du Toit is regtig nie geskik om met bejaardes te werk nie. Sy kru taal en altyd onder die belt-aanmerkings en verkleinerende noemname wat hy hulle gegee het, hoort nie in ’n oord waar bejaardes kom aftree om in harmonie te leef nie,” lees nog ’n uittreksel uit een van die verklarings.

Die hartseer verhaal van Roos en die beweerde swak gedrag van die opsigter het ook onder die aandag van die nie-winsgewende organisasie, Not on my Watch, gekom.

Hier het die veldagent (aan Streeknuus net bekend as Sam), die ondersoek opgeneem en aan verskeie organisasies gerapporteer.

Sam het ook beklemtoon dat die Wet op Ouer Persone, Wet no 13 van 2006 is daargestel om ouer mense teen enige vorm van mishandeling, verwaarlosing, viktimisering of vereensaming te beskerm.

“Dié wet blyk egter nie van toepassing op die inwoners van Kosmos te wees nie.”

Sam het verder aan Streeknuus bekendgemaak dat daar reeds verskeie klagtes teen Du Toit by die polisie geopen is, maar dat dit blyk asof die sake nie vervolg word nie.

Streeknuus het Du Toit genader, maar hy het genoem dat hy met verlof is en dat hy bewus daarvan is dat die beheerraad op 10 September sou vergader. Hy het verkies om nie enige kommentaar te lewer nie.

Adjudant Offisier Welma Kirby van die Sundra Polisie het aan Streeknuus bevestig dat ’n vergaderings wel op 10 September met die beheerraad, bestaande uit verteenwoordigers van verskillende kerke, gehou is.

Volgens Kirby was daar met die partye gekonsulteer.



Die ondersoek na die beweringe by Kosmos en Du Toit is egter in ’n sensitiewe stadium en verdere inligting kon teen druktyd nie verskaf word nie. Streeknuus het verder uit ’n betroubare bron verneem dat dinge nie wel by Kosmos is nie.

“Volgens my word Kosmos nie reg bestuur nie. Daar is verskeie dinge wat net nie reg is nie. Daar is byvoorbeeld geen verteenwoordiging van die welsyn of die munisipaliteit op die raad nie,” het die persoon Streeknuus meegedeel.

Vir Paul Roos is dit egter te laat en vra sy dogter Charlene van Wyk vir geregtigheid.

“Hopelik kom daar ingryping en kan die ander inwoners hierdie behandeling verder gespaar word.”




LEES OOK: Well-known Bethal businessman Ron Shepherd dies

LEES OOK: Actress from Secunda lands roles with top streaming services

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button