GPF staatmaker op Rayton in hoësorg opgeneem na mesaanval

“Johann Vyf was nog altyd ’n steunpilaar in die Rayton-gemeenskap. Hy is ook toegewyd in die stryd teen die bekamping van misdaad en die beskerming van die gemeenskap.”

Johann van der Linde, in die Rayton- en Cullinan-omgewing beter bekend as Johann Vyf, is tans in ’n hospitaal in Pretoria.

Dit volg nadat hy in die vroeë oggendure van 3 September op ’n oproep van ’n poging tot inbraak in die Rayton omgewing reageer het.

“Soos gewoonlik het Johann, die patrolliekoördineerder vir sektor vier van die Cullinan / Rayton gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), hom na die toneel gehaas.

“Dit is wie hy is en hoe ons in die gemeenskap en veiligheidskringe hom ken,” het Karen Yssel, voorsitter van die Cullinan GPF gesê.


LEES OOK: Lekwa announces changes to mayoral committee


Tydens die reaksie het Johann homself ongelukkig in ’n mesaanval deur die verdagte vasgeloop.

Johann is hierna na ’n hospitaal vervoer en het hy op dieselfde dag ’n operasie ondergaan om van die skade te herstel. Volgens inligting het die operasie suksesvol afgeloop.

“Johann Vyf was nog altyd ’n steunpilaar in die Rayton gemeenskap. Hy is ook toegewyd in die stryd teen die bekamping van misdaad en die beskerming van die gemeenskap,” het Yssel bygevoeg.

Volgens Yssel het sy dit daarom goed gedink om die van der Lindes by te staan deur ’n BackaBuddy fondsinsameling vir Johann van stapel te stuur.


LEES OOK: Actress from Secunda lands roles with top streaming services


“Johann het nog ’n lang pad van herstel wat voorlê en onsekerheid bestaan tans oor wanneer hy weer sal kan begin werk.

“Daar is ook onverwagse hoë mediese uitgawes en daarom vra ons die gemeenskap om hiertoe by te dra,” het Yssel bygevoeg.

“Dit is net ’n nederige manier om vir Johann dankie te sê vir sy onbaatsugtige bydrae tot die veiligheid van ons gemeenskap,” het Yssel begevoeg.

Teen druktyd was Johann vanuit die intensiewe eenheid na hoësorg oorgeplaas. Om ’n bydrae tot Johann se mediese uitgawes te maak, besoek die BackaBuddy webtuiste onder Johan 5 Medical Expenses.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version