Bejaarde inwoner van aftreeoord op Sundra sterf – dogter soek geregtigheid

Dogter voel die stelsel het haar pa in die steek gelaat.

Paul Roos (74) is op 7 September om 18:00 in ’n staatshospitaal in Germiston oorlede. Hy was tot kort voor sy dood nog ’n inwonwer van die Kosmos Aftreeoord op Sundra.

Dieselfde Kosmos Aftreeoord is tans in die kollig nadat daar na glo klagtes ontvang is oor die beweerde slegte behandeling, vernedering en intimidasie van verskeie senior inwoners van dié oord.

Roos (74) het in 2020 sy intrek by Kosmos geneem.

Volgens sy dogter, Charlene van Wyk, het haar ouers by haar op Germiston gewoon, maar kort na haar ma se dood het haar pa besluit om weer sy afhanklikheid uit te oefen.

Van Wyk het verder genoem sy het hierna vir sowat twee jaar nie kontak met haar pa gehad het nie totdat sy hom weer by Kosmos opgespoor en bande opgetel het.


 


Van Wyk het ook vertel dat Roos vroeërjare ’n alkoholis was, maar met sy intrek by Kosmos was hy reeds vir sowat 24 jaar gerehabiliteer.

“Ek vermoed my pa het by Kosmos weer vir die drankduiwel geval. Hy het buite die perseel gaan drink, verskeie kere geval en homself beseer.

“My pa was aanvanklik nog heel gesond en het selfs werkies verrig soos om aan voertuie te werk. Sedert Januarie vanjaar het dinge egter vinnig agteruitgegaan in my pa se lewe.

“Hy het ’n ernstige blaasprobleem ontwikkel en vreemde dinge begin aanvang. Hy het ook ‘fits’gekry waartydens hy soms geval en homself dan beseer het.”

Videos op sosiale media
Van Wyk het daarvan bewus geword dat vernederende video’s en foto’s van haar pa in sy vuil en slegte toestand op sosiale media versprei word.

“In een so ’n video was my pa deur die opsigter van Kosmos, Rudi du Toit, verfilm.”

In dié video, in Streeknuus se besit, kan daar gesien en gehoor word hoedat Du Toit vir Roos vra of hy al weer gesuip is. Verdere beeldmateriaal beeld uit hoe Roos in die bagasiebak van ’n voertuig sit en vervolgens by die oord afgelaai word.

Streeknuus het Du Toit oor die verspreiding van dié video genader.

“Ek weet nie wie die video versprei het nie. Ek het dit gemaak op een van daardie aande wat die oom weer dronk was,” het du Toit Streeknuus meegedeel.

Du Toit wou geen verdere vrae beantwoord nie en het Streeknuus meegedeel dat Kosmos se beheerraad op 10 September sou vergader.

Roos het nie geeet nie
Van Wyk het aan Streeknuus vertel haar pa het heeltemal opgehou eet, vreemde dinge aangevang en sy bed natgemaak.

“Ek was deur ’n ander inwoner van Kosmos meegedeel Du Toit het glo opdrag gegee dat geen inwoner vir ’n ander mag kosmaak het nie.

“My pa was geensins meer in staat om vir homself kos te maak nie en ek het hom van toe af van peuselkos voorsien in die hoop dat hy wel iets sou eet.”

Ander inwoners het Van Wyk ook meegedeel haar pa gebruik nie meer sy voorgeskrewe medikasie vir die aanvalle nie.

“My pa is verneder”
Wanneer die Kosmos-bussie glo na die hospitaal op Delmas sou ry, was Roos glo deur Du Toit gevra of hy weer die bussie gaan natmaak. Dié vernedering sou glo voor ander inwoners geskied.

“My pa het dus nie meer by die hospitaal op Delmas uitgekom om sy medikasie te kry nie, wat beslis tot die toename in aanvalle kon lei. Ek was ook deur Du Toit gebel wie vir my gesê my pa stink en ek moet hom kom haal.”

Volgens Van Wyk het sy gedurende Julie vir Du Toit vir die tweede keer genader om hulp vir die moontlikheid om haar pa in ’n versorgingseenheid te plaas. Roos is op 27 Augustus in Germiston in ’n hospitaal laat opneem en daar het hy gesterf.

Dogter kla by polisie
Van Wyk het verder ook gepoog om sake ten opsigte van die vernedering van haar pa in die video oop te maak.
Nie die Elspark- of Sundra polisie wou haar glo hierin bystaan nie.

By navraag het Adjudant Offisier Welma Kirby van die Sundra Polisie egter aangedui hulle het die Van Wyks slegs meegedeel dat die saak nie onder die POPI-wet sou sorteer nie en dat hulle die nodige bronne sou nader om klarigheid oor die opening van die saak te verkry.

Van Wyk het selfs ’n privaatspeurder genader, maar dié het glo met haar geld verdwyn en daar het niks van gekom nie.

Van Wyk voel die stelsel het haar pa in die steek gelaat en dat sy in toe deure vasgeloop het. Sy glo sy kon geen hulp vanaf die opsigter, die welsyn óf die polisie kry nie.

“Vandag is my pa dood en ek voel hy is in sy swakheid en siekte in die steek gelaat – ek soek net geregtigheid.”

Intussen het meer klagtes omtrent Du Toit se skynbare vernederende gedrag Streeknuus bereik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version