Delmas se senior burgers bederf met lekker-luister Afrikaanse musiek

“Ons hoop om gou weer vir Stefan te sien, dan wil ons groot gaan en ook ons senior burgers van Sundra en oraloor betrek."

Senior burgers van die Malita- en Herfsland Aftreeoorde het byeengekom om na Afrikaanse volksliedere, soos uitgevoer deur Stefan Jansen, te luister.

Dié geleentheid het op 28 Augustus in die Malita saal op Delmas plaasgevind.

Jansen, ’n oud-inwoner van Bronkhorstspruit, beywer hom daartoe om liedjies met blywende waarde sing, skryf en Afrikaanse volksmusiek passievol na te streef. Jansen het vertel sy hart is Afrikaans en dat die taal vining groei.

“Ek hou van musiek wat deur die woorde gedra word; musiek deur Laurika Rauch, Koos du Plessis, Koos Kombuis, David Kramer en ander legendes, musiek wat met jou praat en blywend is,” het Jansen die senior burgers van Delmas meegedeel.

Hy het verder vertel hy het sy eintlike liefde vir Afrikaans in Switserland ontdek.


Stefan Jansen vermaak die senior burgers van Delmas.

“Daar het ek op straat gestaan en alles probeer sing in die hoop om ’n geldjie te kry, maar daar was geen reaksie nie,” het Jansen vertel.

“Uit moedeloosheid het ek later sommer begin om Lisa se Klavier te sing en daar kom die reaksie toe en het ek geweet dat ek eintlik in Afrikaans moet sing.”

Volgens Jansen staan hy in nou verband met die FAK en so het hy ook die senior burgers vertel van die pragtige nuwe ontwikkelinge by die Voortrekker Monument en spesiale aanbiedinge vir spesifiek bejaardes, soos nuwe ’n restaurant, rolstoel vriendelike paadjies en selfs gholfkarre om bejaardes rond te ry.

Jansen word deur die FAK geborg om hierdie optredes gratis te doen.

“Ons doen dit nie vir liefdadigheid nie, maar uit liefde.”


Adriaan Vermaak, Stefan Jansen, raadslid Pieter Senekal en Joe van Breda.

Hierna was dit tyd vir sing en begelei met sy met kitaar en mondfluitjie het Jansen liedjies soos Lisa se Klavier, Mannetjies Roux en ook van sy eie komposisies soos die beminlike Bella gesing. Die senior burgers het saamgesing, gelag en soms ook ’n traan gepik in herinnering aan vervloë dae.

Volgens Pieter Senekal, raadslid vir die VF+ in die plaaslike munisiplaiteit, het hy vir Jansen op Facebook raakgeloop en het daar en dan besluit om hom Delmas toe te nooi.

“Dit was vir ons ’n voorreg om vir Stefan te ontvang en so ons ou mense van ’n welverdiende bederf te voorsien,” het Senekal gesê.

“Ons hoop om gou weer vir Stefan te sien, dan wil ons groot gaan en ook ons senior burgers van ons hele kontrei betrek,” het Senekal bygevoeg.

Hierna was dit tyd vir koekies en tee voordat elkeen weer na sy of haar blyplek in hul onderskeie aftreeoorde vetrek het.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version