Solidariteit en AfriForum praat oor die jeug se toekoms op Standerton

Hennie Bekker het die verhoog gedeel met Flip Buys, Hannes Noëth en van die talentvolle jongmense wat in ons gemeenskap woon. Asemrowende optredes is deur skole reg oor die dorp opgevoer en die kenners het die belangrike onderwerp, Hoop vir ons kinders se toekoms getakel.

Solidariteit Helpende Hand (SHH) en AfriForum het op 28 Augustus hande gevat om die gemeenskap, en die jongmense wat deel daarvan vorm, moed in te praat.

Janelize Roux van Ons Winkel op Standerton het na weke se harde werk en beplanning omtrent ’n fees voorgesit.

Die aand was nie net enige praatjie nie, maar kon eerder beskou word as ’n viering van die gemeenskap se talentvolle jeug.

Die koor van Standerton Akademie het die Standerton Teatro gevul met hul harmonie en ’n jong ATKV spreker van Laerskool Standerton het sy opinie op die term ‘so dom soos grond’ gelig.


Die Standerton Akademie se koor.

Sy gevolgtrekking was grond is toe nie so dom soos die vergelyking voorstel nie.

Hennie Bekker, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het ingedelf in die aand se onderwerp ‘Hoop vir ons kinders se toekoms’.

Bekker het sy spraakbeurt gebruik om teenwoordiges in te lig oor die talle opsies wat leerders inwag wanneer hulle die belangrike keuse moet maak oor waar hulle hul naskoolse kwalifikasies gaan verkry.

Hy het verduidelik dat Sol-Tech sowat 1 800 studente per jaar inneem en ’n slaagsyfer van meer as 96% behou.

“Ouers moet aktief betrokke wees by alles wat hulle kinders beïnvloed, vanaf sport en kultuur na buurtwag geleenthede wat hul veiligheid waarborg,” het Bekker gesê.

AfriForum het reeds diep spore in ons gemeenskap getrap en staan gereeld skole by.

Een voorbeeld van dié belangrike vennootskap is die herstel van paaie voor Standerton Hoërskool (SHS) se ingang, wat in samewerking met die Northern Light Foundation (NLF) afgehandel is.

Bekker het genoem dat harde tye goeie mense vorm en só ook is Solidariteit Helpende Hand (SHH) en AfriForum deur harde tye gevorm.

Ter afsluiting het Bekker die gehoor gelaat met ’n laaste gedagte, “Daar is hoop vir ons kinders, want ons sal self.”


die Toneelgroep, Voetspore het opgetree.

Dié toespraak is gevolg deur ’n dramatiese opvoering van die SHS se toneelgroep.

Zietske Bailey, Anke van Aswegen en Clarissa Gerber het na hul rolle in die toneelstuk Voetspore teruggekeer en nog méér emosie as van tevore uit die gehoor getrek.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van SHH het die gehoor geboei met sy ‘eerste 10 redes’ vir jongmense om hoop te hê.

“Die hartseer realiteit is dat klein dorpies besig is om uit te sterf en dit is net die gemeenskap wat dit kan voorkom,” het Noëth geopen.


Elri Fourie het gedans.

Dié kenner se eerste rede om nie hoop te verloor nie, is om te begin by wie ons was. Noëth stel voor dat ons toekomsmoed in die geskiedenisboeke moet soek.

“Daar is klaar ’n volgende geslag wat kan bou, dit is ons verantwoordelikheid om ons kinders te leer wie ons was en wat ons is en daardeur te besluit waarheen ons gaan,” het Noëth verduidelik.

Hy het die gehoor herinner dat hoopdiewe vererger word deur drukleiers.

“Moet nie toelaat dat dit jou moed beroof nie,” het Noëth gesê.


LEES OOK: Parkrunners in Standerton take on usual 5km


Elri Fourie, wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig in Australië by die Dans Wêreldkampioenskappe, het haar dansroetine meestervol opgevoer.

Flip Buys, voorsitter van Solidariteit en AfriForum was hierna aan die woord gestel. Sy toespraak het gefokus op die oordrag van kennis.

“Ons toekoms hang af van ons bereidwilligheid om by mekaar te leer,” het Buys gesê.

Hy het die talle studie opsies wat deur Solidariteit aangebied word, bespreek. Dit sluit instansies soos Sol-Tech en Akademia in.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version