Eloff se Bennie van der Westhuysen gegroet

“My grootste herhinnering aan Bennie sal altyd wees die dag toe hy vir die eerste keer sy kleindogter op die lughawe ontmoet het – soos met elk van ons drie kinders se geboortes het die trane daardie dag ook gevloei.”

Bennie van der Westhuysen, oud SAPD-lid en inwoner van Eloff, is op 27 Augustus na ’n lang lyding in die Roseacres Hospitaal oorlede.

Bennie, gebore op 5 September 1962, is kort voor sy 62ste verjaarsdag dood. Hy was in die polisiemag vanaf 1982 tot 2001 waarna hy die diens verlaat het.

Sy diens het ingesluit die polisiestasies by Nongoma, Newcastle, die Oschoek grenspos sowel as Morgenzon.

Gedurende 1991 was Bennie met diabetes gediagnoseer. Hy het hy gedurende 2017 sy been verloor nadat dit weens diabetes geamputeer moes word.

Vir Bennie, die sterk polisieman was die kluistering aan ’n rolstoel nie aldag maklik nie. Volgens sy gesin het sy gesondheid wipplank gery en op 3 Junie vanjaar is Bennie in die Parkland Hospitaal opgeneem.

Bennie het die laaste weke van sy lewe op aarde in ’n ‘step down’ deurgebring, nadat hy op 10 Julie daarheen oorgeplaas was.

Volgens sy vrou, kaptein Salomé van der Westhuysen van die Delmas SAPD, was Bennie die laaste tyd baie swak.
Salomé het Streeknuus meegedeel dat Bennie ’n groot liefde vir gholf en rugby gehad het.


Kaptein Salomé van der Westhuysen saam met man, wyle Bennie van der Westhuysen.

“Hy was ’n baie groot Sharks ondersteuner.”

Volgens Salomé en hul twee dogters, Cathy van der Westhuysen en Stephani van Dyk, was sy ‘dad jokes’ ook iets waaraan hulle as gesin hom sal onthou.

“Ons pa was altyd vriendelik en behulpsaam, veral met mense in nood,” het die dogters laat hoor.

“My grootste en kosbaarste herhinnering aan my pa was die dag toe hy my met my troue weggegee het,” het Stephani gesê. “Hy het die hele tyd van trots gehuil.”

Volgens Stephani het Bennie ook na elke pakslae wat hy uitgedeel het met roomys op die stoep gaan sit en verduidelik dat hy hulle pak gegee het omdat hy so lief is vir hulle.

Cathy onthou haar pa as baie trots en spoggerig met elke prestasie wat hulle behaal het.

“Pa was lief vir diere, lekker gesels en natuurlik ’n stukkie braaivleis.”

Salomé se gunsteling herinnering is toe hy sy kleindogter, Zelmari, die eerste keer op die lughawe ontmoet het.

Die trane het gevloei soos ook met ook ons kinders se geboortes. Die gesin bedank elkeen wat hulle deur die hartseer tyd bystaan en ondersteun.

“Dankie, ook aan ons Here vir die tyd wat ons vir Bennie by ons kon gehad het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version