Swanger vrou wat dogtertjie en lewensmaat in ongeluk naby Delmas verloor, soek antwoorde

“Ek het na my Shylo gesoek, haar gevind en met haar op my skoot gaan sit. Net daar is sy in my arms dood.”

Noodwerkers het die klein blondekop meisie se lyk uit haar swanger ma se arms geneem en op ’n matras neergelê.

“Sy het nie meer geleef nie en ons moes haar toegooi.”

So beskryf een van die protospanlede van AfriForum Valke Buurtwag die tragiese gevolge van ’n ongeluk wat op 31 Augustus op die N12-hoofweg naby Delmas gebeur het.

Die swanger vrou is Robin du Plessis.

Haar driejarige dogtertjie, Shylo, asook haar lewensmaat en Shylo se pa, Willem van der Sandt (40) is in die ongeluk oorlede.

Dié ongeluk wat Du Plessis en haar twee seuns oorleef het, het omstreeks 21:00 op die N12-hoofweg tussen die Groenfontein- en Argent afritte gebeur toe ’n ander motor van agter in hulle vasgejaag het. Die vrou wat die ander motor bestuur het, het vanaf die toneel gevlug.


Leandro Botha, Robin du Plessis en Lourenzo Botha het die gru-ongeluk oorleef.

Volgens Du Plessis was sy en Van der Sandt saam met haar twee seuns en hul dogter in hul wit Mitsubishi Pajero na hul huis in eMalahleni op pad.

“Ons het kruideniersware in Springs gekoop en het vining by my ma op Eloff aangedoen.”

“Agter ons het ’n voertuig teen hoë spoed aangekom, ligte geflikker en toe teen ons vasgery,” het Du Plessis die oomblikke voor die ongeluk beskryf.

Volgens Du Plessis het beide voertuie gerol.

Du Plessis was uit die voertuig geslinger, sy het opgestaan en na Van der Sandt gesoek. Sy het hom gevind waar hy bloeiend in die pad gelê het en besef dat hy waarskynlik nie meer leef nie.


Die ongelukstoneel op die N12 digby Delmas.

Haar oudste seun, Lourenzo Botha (12), het buite die voertuig gelê en dit het geblyk dat hy baie seergekry het.
Die jongste seun Leandro Botha (8), was steeds in die voertuig.

“Ek het na my Shylo prinsessie gesoek, haar gevind en met haar op my skoot gaan sit. Net daar is sy in my arms dood.”

Intussen was nooddienste gekontak en ook AfriForum Delmas Valke Buurtwag se proto- en noodhulpspanne het op die toneel aangekom.

Die noodwerkers was vinnig op die toneel, maar die wag vir ’n ambulans het twee ure geduur. Du Plessis en haar seuns is na ’n hospitaal geneem en was om 03:00 die volgende oggend ontslaan.

Volgens Robin se ma, Mandy van der Merwe, het Lourenzo intussen vir x-strale gegaan en alhoewel hy blou en seer, het hy niks gebreek nie. Ook ma en haar ongebore baba is ongedeerd.

“Die besoek aan ons Saterdag was so spesiaal. Willem en Robin het ’n koevert met die geslag van hul baba wat later tydens ’n spesiale geleentheid onthul sou word, by ons kom aflewer,” het Van der Merwe, vertel.


Die wit Pajero waarin ’n gesin van vyf in ’n ongeluk buite Delmas op die N12 betrokke was.

“Ek en Robin is dankbaar vir die engele wat haar en die seuns bysgestaan en vertroos het op die toneel.

“My dogter moet egter klarigheid kry oor die persoon of persone wat in die ander voertuig was,” het Van der Merwe bygevoeg.

Teen druktyd kon daar nog geen begrafnisreëlings vir Van der Sandt en Shylo bekend gemaak word nie en sou hul uitkenning op 4 September plaasvind.

Streeknuus kon intussen bevestig dat die ander voertuig wat in die ongeluk betrokke was, ’n swart Hyundai met registrasienommer LCH 814 MP is.

Volgens die Delmas polisie is ’n saak van strafbare manslag teen die bestuurder van die voertuig geopen en is haar besonderhede aan die polisie bekend. Teen druktyd was daar egter nog geen inhegtenisname gemaak nie.

“My dogter en kleinseuns is gebroke mense. Die skuldiges moet vasgetrek word,” het Van der Merwe bygevoeg.

Enigeen met meer inligting of wat dalk die ongeluk gesien gebeur het, word gevra om Van der Merwe by 079 190 9003 te skakel.


Exit mobile version