Local newsNews

Onderwyser van Marietjie Skool ontvang toekenning as beste in Mpumalanga

Onderwyseres geniet dit om met kleiner kinders te werk.

Nadia van der Merwe (49) het vandat sy matriek klaargemaak het, geweet sy wil ’n onderwyser word.

Sy het vanjaar die toekenning vir die beste onderwyser vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes in Mpumalanga ontvang. Dié spesiale geleentheid het op 24 Augustus in Skukuza plaasgevind.

Sy is al die afgelope 10 jaar ’n onderwyser by die Marietjie Skool vir Leerders met Spesiale Behoeftes en sy het in dié tyd baie geleer hoe om buite die boksie te dink.

Van der Merwe het, nadat sy matriek geskryf het op Potchefstroom, aan die destydse Randse Afrikaanse Universtieit, haar graad in onderwys voltooi en na Secunda verhuis waar haar man werk gekry het.

Sy het ook haar honneursgraad in opvoedkundige sielkunde voltooi en by Highveld Park High School begin werk.

Sy het vir nege jaar by dié skool Engels gegee, voordat sy dit verruil het vir ’n speelgroep by haar huis.

“Ek het my twee seuns, wat toe drie en vyf jaar oud was, te veel gemis en besluit om my eie speelgroep te begin,” het Van der Merwe vertel.

Haar pad met gestremde kinders het toe reeds begin toe sy besluit het enige kind is welkom by haar speelgroep.

Sy het een kwadrupleeg, een kind met Downsindroom en later nog ’n kind wat Downsindroom gehad het en outisties was by haar groep verwelkom.

“Ek wou hê dit moes ’n speelgroep wees wat alle kinders insluit en dit was vir my wonderlik om te sien hoe die ander kinders daardie drie kinders verwelkom en met hulle gespeel het,” het sy gesê.

Sy het egter na twee jaar, toe haar oudste seun skool toe is, dié groep verruil vir Hoërskool Secunda waar sy vir vyf jaar Engels gegee het.

Sy het geweet onderwys is haar roeping en sy glo daarin om kinders nie net hul vak te leer nie, maar ook waardes wat gebaseer is op geloof, liefde en respek.

Dit was vir haar interessant om haar onderrigtegnieke aan te pas om haar Graad 12-leerders en Graad Agt-leerders op verskillende maniere klas te gee.

“Met die Graad Agts was ek baie strenger, maar ook snaakser.”

Sy het later bedank by Hoërskool Secunda en haar besig gehou met verskeie kursusse, onder andere ’n teologiese beradingskursus.

Van der Merwe was egter net vir so drie maande by die huis voordat sy Marietjie Skool begin werk het.

Hiér het sy al met die kleintjies en met die senior leerders gewerk.

“Dit is so lekker as die kinders ’n mens op die speelgronde kom groet en ’n drukkie gee.”

Van der Merwe neem tans waar as onderhoof by Marietjie Skool en glo ’n mens kan by al jou kollegas iets leer.


LEES OOK: Vriendelike Angelman-lyer van Bronkhorstspruit is ’n peuter in ’n tienerlyf


Sy het in al die jare wat sy skoolhou nooit opgehou om, selfs toe sy destdys as vakhoof of graadhoof klasbesoek doen, iets nuuts te leer nie.

Sy doen ook gereeld kursusse in hoe om met outistiese leerders te werk en hou daarvan om haarself ingelig te hou.

In haar vrye tyd, is sy steeds besig met skoolwerk of voorbereidingswerk en sy geniet dit om naaldwerk te doen en om haar vingers vuil te maak in die tuin. Sy hou van lees, maar kry min tyd vir dit.

Sy het haar man, Rubin, en die hoof by Marietjie Skool, Santé Barnard vir hulle ondersteuning en leiding bedank asook Dawn Mngomezulu en Priscilla Masombuka van die Gert Sibande streek.

Van der Merwe dring deur om aan die nasionale ronde van die toekennings vir onderwysers deel te neem, wat dié week in Gauteng plaasvind.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button