Phoenix van Delmas dring deur na Kestrel Liga se eindstryd

Die wedstryd was die halfeindstryd in die Valke Kestrel Liga en met ’n eindtelling van 26-3 het die span van Phoenix vir hulself ’n plek in die finaal verseker.

Delmas Phoenix Rugbyklub het op 24 Augustus teen die span van Oos-Rand Polisie op Phoenix se tuisveld op Delmas te staan gekom.

Die wedstryd was die halfeindstryd in die Valke Kestrel Liga en met ’n eindtelling van 26-3 het die span van Phoenix vir hulself ’n plek in die eindstryd verseker.

Volgens Phoenix se afrigter, Jandré Senekal, was dit weer eens ’n harde wedstryd, maar het sy span uitstekend op die veld presteer.

“Ons manne se verdediging was baie goed en die ervaring van die seisoen, hetsy die vrienskaplike wedstryde, die Presidentsbeker sowel as ons ligawedstryde in aanloop tot die halfeindstryd, het bygedra tot ons plek in die Kestrel Liga-eindstryd. Dit het ons spelers gewoond gemaak aan hoëdruk wedstryde,” het Senekal Streeknuus meegedeel.

“Ek wil die eer vir ons volgehoue oorwinnings en sukses aan die Here opdra,” het Senekal ook gesê.


Phoenix se Lethabo Sathekge laat hom nie keer nie. Foto: Vlamiibum Photography

“Ons het baie genade van Bo ontvang; die Here was nog net goed vir ons vanjaar. Alle eer aan Hom en ek weet nie hoe ons sonder Hom tot hier sou ons vorder nie.”

In die ander halfeindstryd tussen die spanne van die Vanderbijlpark Rugbyklub en die Edenvale Panthers het Edenvale as die oorwinnaars uit die stryd getree.

“Ons sien uit na die eindstryd en ons spelers is slaggereed daarvoor.”


Die Phoenix rugbyklub spelers. Foto: Vlamiibum Photography

Senekal het verder gesê dat hulle ook nie werklik ernstige besering gedurende die seisoen gehad het nie.

“Daar was maar kneusings, spierkrampe, ’n bloedneus of twee asook ’n verstuite enkel, maar andersins baie geseënd.”

Die eindstryd in die Kestrel Liga tussen die spanne van Phoenix en die Edenvale Panthers vind op 7 September by die Barnard Stadion in Kemptonpark plaas.




LEES OOK: Dra Mekaar members return for monthly meeting in Secunda

LEES OOK: AfriForum Delmas Valke Buurtwag gekroon as tweede beste in Noordstreek

Exit mobile version