Delmas Rolbalklub klim steeds suksesleer

“Ons hoop om dan ook binnekort 'n paar Delmas-name op die onderskeie distrikspanne te sien pryk.”

Delmas Rolbalklub klim steeds die leer na faam nadat drie van sy lede genooi was om op 3 Augustus aan die Ekurhuleni Bowls (EKB) President Ope deel te neem.

Gustav van Schalkwyk het aan die Junior President Ope deelgeneem terwyl Hanri Ehlers en Erens Botha onderskeidelik aan die vroue- en mans enkel ope deelgeneem het.

Die kompetisie het by die Delville Rolbalklub in Germiston plaasgevind.

“Dit is ’n groot voorreg om vir hierdie glansgeleentheid genooi te word waar ons die kans gehad het om teen die beste rolbalspelers in die distrik mee te ding,” het die president van die Delmas Rolbalklub, Hanri Ehlers, laat hoor.

Ehlers self het met ’n brons medalje weggestap, terwyl Botha en Van Schalkwyk beide goed gevaar het, gegewe die strawwe kompetisie.


LEES OOK: AfriForum Delmas Valke Buurtwag gekroon as tweede beste in Noordstreek


Volgens Ehlers sal verskeie klublede vervolgens ook aan die Kampioen van Kampioene deelneem. Tydens dié kompetisie kom al die onderskeie klubkampioene vanuit die distrik teen mekaar te staan.

Delmas lede wat aan hierdie gesogte kompetisie gaan deelneem, is Michael Snyman (mans beginner), Hanri Ehlers (vroue beginner), Erens Botha (mans ope), Christelle Terblanche (vroue ope) en Piet Vorster (senior mans).

“Ons hoop om binnekort ‘n paar Delmas name op die onderskeie distrikspanne te sien pryk,” het Ehlers ook gesê.

Van Schalkwyk was ook gekies vir die o30 EKB distrikspan wat aan Rolbal Suid-Afrika se interdistrikte kompetisie gaan deelneem. Hierdie wedstryd sal van 21 tot 24 September by die Maritzburg Rolbalklub plaasvind.

“Delmas Rolbalklub is trots op sy lede en hul besondere prestasies in die distrik,” het Ehlers afgesluit.


Exit mobile version