Standerton se Pieter Grobbelaar gaan na SA landloopkampioenskap

Hy het verlede naweek by die Mpumalanga landloopkampioenskap 'n sewende plek vir mans tussen 45 en 49 jaar behaal.

Landlope is eintlik nog nuwe terrein vir Pieter Grobbelaar (46) wat eersdaags aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Vanderbijlpark gaan deelneem.

Dié padwedloper en sy dogters, Deleney (13) en Leanka (10) het verlede naweek in Nelspruit aan die Mpumalanga byeenkoms deelgeneem waar Grobbelaar ’n sewende plek vir mans tussen 45 en 49 jaar behaal het.

“Die 8km wedloop se terrein was rof,” het Grobbelaar vertel.

Hy is eintlik ’n langafstand padwedloper en lid van die Standerton Marathonklub wat slegs die landlope vir sy dogters aangepak het.


LEES OOK: Archers practice in Secunda for upcoming nationals


Die weeklikse rivier park parkrun was al oefening wat eintlik hy in nie-padlope kry. Dié 5km-roete het Grobbelaar al meer as 130 keer gehardloop.

Grobbelaar, ’n Standertonner in murg en been, was op skool meestal in naellope te sien. Die langasem het eers na skool ingeskop en sedertdien is dit sy kos.

“Hardloop is vir my soos terapie. As ek dit nie kan doen nie, raak ek moeilik,” het hy erken.

“Ek geniet dit om net te kan hardloop. Dit was baie erg vir my tydens Covid toe ons nie mag uitgegaan het nie,” het Grobbelaar vertel.


Pieter Grobbelaar by een van Standerton se parkruns.

Bruce Fordyce, Suid-Afrikaanse Comrades Marathon wenner, is Grobbelaar se rolmodel. Hy wil ook nog eendag die Comrades voltooi.

Intussen sien hy die wedlope saam met sy dogters as gesinstyd. Sy vrou Delene, is die een wat sorg dat daar reg geëet word en dat die hardlopers alles het wat hulle sal benodig om die wedloop te voltooi.

Dit is vanjaar die tweede keer dat Grobbelaar die Mpumalanga landloopspan gehaal het en hoewel Deleney en Leanka nie ingekom het nie, is hulle vol vuur vir hul pa.

“Ek sien uit na die byeenkoms op 7 September,” het Grobbelaar afgesluit.

Exit mobile version