Red Star speel gas vir tienjarige se 50ste parkrun

“Raak deel van die Redstar parkrun – almal is welkom om te harloop, draf, stap of om as vrywilliger te kom uithelp – of kom kyk waaroor dit gaan.”

Na etlike weke se afwesigheid kon die ‘parkrunners’ weer by die Red Star Raceway naby Delmas inval vir hul weeklikse pret, plesier en goeie en gesonde oefening.

Volgens Jacky Grassman, die hoofbeplanner, kon die oefening, weens konstruksie by die Red Star Raceway, nie plaasvind nie.

Die stappers en hardlopers was egter weer op 17 Augustus om 08:00 bymekaar om die dag se gebeure mee te maak.

Die Red Star parkrun vind alternatiewelik op die pragtige resiesbaan of die veldroete plaas en beide is 5km lank.

Saterdag was egter ’n oggend vir die stap deur die hoëveld grasvelde en met die oggendson warm en windloos het deelnemers die geleentheid gehad om die natuur rondom hulle te bewonder.


Nelia van Niekerk.

Volgens Grassman is sy baie verlig dat dié oggendsport weer op volle dreef is en bedank sy die deelnemers.

Om die oggend se gebeure ekstra spesiaal te maak het die tienjarige Mia Stoltz, vanaf van Morelettapark in Pretoria, verkies om haar 50ste parkrun op die roete te voltooi.

Volgens Mia het sy op die ouderdom van agt saam haar ouers, Erhard en Hermien, aan parkruns begin deelneem.

“Ek is ’n landloopatleet en die 5km parkrun is baie goeie oefening daarvoor,” het Mia Streeknuus meegedeel.

“Ons klub groei van sterkte tot sterkte en daarvoor bedank ek elke deelnemer, elke baanbeampte en vrywilliger,” het Grassman laat hoor.


Bongani Mtsweni, wenner van die Red Star parkrun net buite Delmas.

Sy het Streeknuus verder meegedeel dat hulle baie uitsien na die Lentefees wat gedurende September by Red Star aangebied word.

“Ons het verlede jaar ons eerste formele 42km marathon aangebied en doen weer so vanjaar. Ons beplan egter om groot te gaan en maak sommer ’n hele feestelike naweek van die geleentheid met die klem op ons tweede 42km marathon wat op 28 September sal plaasvind.”

 

“Raak deel van die Redstar parkrun – almal is welkom om te harloop, draf, stap of om as vrywilliger te kom uithelp – of kom kyk waaroor dit gaan,” het Grassman afgesluit.

Vir meer inligting rondom die parkrun en opkomende marathon besoek die Red Star parkrun Facebook blad.


Exit mobile version