Die veld brand op R42

Toe die brand net begin het, het almal ingespring en gehelp waar hulle kon.

‘n Reuse brand het op 14 Augustus deur die velde van verskeie plase by Bronkhorstspruit langs die Delmaspad op die R42 gewoed.

Boere, die munisipale brandweer en First Care Emergency Services het almal ingespring om die wegholbrand te bestry.

Die Augustuswind het die werk bemoeilik en groot dele wyding vernietig. ’n Boer wat gehelp het, het op die toneel te kenne gegee dat hy brandstigting vermoed.

“Ek het juis vanoggend aan die anderkant van die dorp nog ’n vuur help blus. ’n Vuur ontstaan nie net nie,” het hy aan Streeknuus gesê.



Die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLU SA) het intussen ook ’n persverklaring uitgereik oor brande wat die afgelope paar weke veral in Gauteng en Mpumalanga gewoed het.

“Hierdie brande het ‘n verwoestende impak op die boerderygemeenskap gehad – boere het ernstige brandwonde opgedoen, hul diere het verbrand, plaaswerkers is beseer, en sommige het selfs hul huise verloor. Ons boere brand.

“Sterk winde en droë toestande het talle brande oor die afgelope twee weke oor dele van die land laat uitbreek. Brandwaarskuwings is in talle provinsies uitgereik.”

Die TLU SA het ’n beroep gedoen vir finansiële bydraes tot hul traumafonds om boere te kan help.




ALSO READ: Brand ontstaan weer by leë huis op Delmas

ALSO READ: Grasdakhuis op plaas by Delmas gaan in vlamme op

Exit mobile version