Brand ontstaan weer by leë huis op Delmas

“Die bank, as eienaars moet beslis nou begin verantwoordelikheid neem vir die bouvallige eiendom, dit is ’n risiko soos daar elke jaar met die brande gesien kan word.”

Die nou reeds berugte verlate woonhuis in Oosterhuisstraat op Delmas het vanjaar weer aangrensende eiendom in gevaar gestel nadat die gras aan die brand gesteek is.

Dié huis, sommer ook bekend as die geelhuis, staan nou reeds vir sowat ses jaar leeg.

Volgens betroubare inligting is die huis deur ’n bekende bankgroep teruggeneem, maar staan dit steeds leeg, word glo dag-vir-dag verder geplunder en huisves ’n hawelose man.

So het daar dan weer op 14 Augustus ’n brand op die perseel uitgebreek. Streeknuus het op verskeie vorige geleenthede al oor brande by die huis berig.

Volgens ’n verdere betroubare bron het die hawelose glo die lang gras en kakiebos op die perseel aan die brand gesteek, wel wetende dat daar geen lopende water beskikbaar sou wees nie.

Met Augustuswinde van sowat 25km per uur op die oggend, het die vuur byna rampspoedige gevolge gehad.



Aangrensende bure, Carel en Marelie Janse van Vuren, was die oggend nie tuis nie en binne etlike minute het die vlamme deur die heining na hul erf versprei.

Carel Botha het die vlamme opgemerk en die plaaslike brandweer gekontak.

Hy het egter ook vir Maksimum Sekuriteit geskakel wat binne enkele minute op die toneel was om die Janse Van Vuren’s se hek oop te sluit sodat hy toegang tot die eiendom kon kry.

Met ’n tuinslang in hand het hy die ergste vlamme aan die Janse van Vuren’s se kant van die heining kon keer.

Die wind het intussen gedraai en gou was ook die ander aangrensende huiseienaar, Ansa Oosthuizen, se eiendom in gevaar.

Ook sy en haar werkers moes blitsig met tuinslange inspring om die vuur aan haar kant van die heining in bedwang te probeer bring. Na byna ’n uur se gespook het bure en die brandweer die vuur geblus gekry.


LEES OOK: Three arrested near Bethal with recovered livestock worth R25 000


“As Carel Botha nie tuis was nie, sou daar dalk baie meer skade gewees het by Carel van Vuren se huis en selfs by my huis ook – wat sou gebeur het as niemand tuis was nie?” het Oosthuizen gevra.

“Die bank, as eienaars moet beslis nou begin verantwoordelikheid neem vir die bouvallige eiendom, dit is ’n risiko soos daar elke jaar met die brande gesien kan word. Misdaad neem toe en onhigiëniese toestande heers met die persoon wat daar bly sonder lopende water en toiletgeriewe,” het Oosthuizen bygevoeg.

Ook die brandweerpersoneel het die herhalende brande op die perseel as ’n groot risiko geopper.

“Op ’n vraag aan die hawelose oor waarom hy op so ’n winderinge dag brand sou stig op die perseel, het hy slegs geantwoord: “Ek sal nie weer nie.”

“Die eiendom bly ’n gevaar, daar ontstaan jaarliks brande, rot- en muisplae neem toe en alhoewel daar byna niks meer van die eiendom oor is nie, stroop vandale en diewe steeds daar,” het Botha gesê.

“Dit belemmer ook die waarde van ons eiendomme aansienlik – die huis het totaal verval vanaf ’n eens statige woning tot ’n murasie.”




LEES OOK: Gemeenskap vat hande om veldbrande in die Leeufontein-gebied te bestry

Exit mobile version