Grasdakhuis op plaas by Delmas gaan in vlamme op

“Asseblief julle my huis is aan die brand, kom help.”

“Asseblief julle, my huis is aan die brand, kom help,” was die noodroepe wat op 18 Augustus kort na 13:00 by verskeie veiligheidsgroepe op Delmas deurgekom het.

Op ’n plaas in die Delmas omgewing was ’n jong paartjie besig om vleis te braai – niks vreemd op ’n heerlike Sondagmiddag in Suid- Afrika nie. Hulle lewens sou egter binne sekondes verander.

Volgens inligting het daar ’n wind opgestaan en ’n kool het glo die grasdak van hul dubbelverdiepinghuis laat vlamvat.

Daar was onmiddellik om hulp geroep en vrywilligers en buurtwagte, wat insluit die Sundra Bulldogs, AfriForum Delmas Buurtwag, Argent Plaaswag en Eloff Buurtwag en verskeie vrywilligers het hulle na die toneel gehaas.


LEES OOK: Bodies of two dumped babies are found within a week in eMbalenhle


Die plaaslike VKLM brandweer was gekontak en was spoedig op die toneel. Vrywilligers en die brandweer het onverpoosd gepoog om die vlamme te blus, maar dit het egter gou geblyk dat dié vuur nie gestuit sou kon word nie.

Die vlamme het in die boonste verdieping van die huis ontstaan en het baie gou na die grondvloer versprei.

Met die Augustuswind wat van tyd tot tyd opgestaan het, het vrywilligers en die brandweer egter aangehou om die vuur te probeer blus sodat die omliggende veld en gras nie ook vlamvat nie.

Teen sterk skemer was etlike vrywilligers steeds op die toneel. Geen mense of diere is in die brand beseer nie en die eienaar van die plaas sowel as die inwonende paartjie bedank elkeen wat hulp aangebied het tydens hierdie traumatiese ervaring.


LEES OOK: Die weemoed van ’n waterlose week laat VKLM gemeenskap hande vat


Exit mobile version