Solidariteit bespreek kinders se toekoms op Standerton

Solidariteit Helpende Hand bied geleentheid aan by Standerton Teatro.

Solidariteit Helpende Hand bied op 28 Augustus ’n geleentheid genaamd Ons Kinders se Toekoms by die Standerton Teatro aan.

Dié geleentheid skop om 17:30 af met ’n ligte ete en gesprekke deur Flip Buys, Hannes Noëth en Hennie Bekker sal om 18:30 volg.

“Die probleem is dat ons jong mense nie bewus is van al die opsies wat hul inwag na skool nie,” het Janelize Roux van Ons Winkel Standerton gesê.

“Al hoe meer jongmense verlaat die land weens werkloosheid; dit hou groter probleme vir Suid-Afrika se ekonomiese potensiaal en die toekomstige werksmag in.”

Die gesprek sal in diepte oplossings vir dié probleem bied en die gemeenskap inlig van talle studie opsies wat beskikbaar is.


Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld-gebied gaan ook die gehoor toespreek.

“Dit gaan ’n aand wees gevul met hoop en inspirasie vir ons kinders se toekoms,” het Roux bygevoeg.

Buys is die uitvoerende hoof van Solidariteit en word beskou as die man agter die Solidariteit-beweging.

Hy is die outeur van Vat Jou Goed en Bou, wat hy met behulp van Dirk Hermann geskryf het en Die Pad na Selfbestuur en Afrikanertoekoms 101.

Na bewering praat Buys nie algemeen in die platteland nie, dus is dié funksie ’n geleentheid wat jy nie wil misloop nie.

Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, was aanvanklik ’n predikant in die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika. Bekker is die koördineerder van Afriforum Mpumalanga en gaan ook die gehoor toespreek.


LEES OOK: Lekwa Municipality and community safety forums take hands


“Die hoof fokuspunt van die aand is ons kinders, daarom gaan daar wonderlike optredes vanaf jongmense in ons gemeenskap wees,” het Roux gesê.

Gaste kan ’n wonderlike aand gevul met dans, sang en optredes van die ATKV, verwag. Die volgende oggend sal ’n sakeontbyt volg, waar Buys en Noëth die onderwerp ‘Hoe om Standerton op te bou’ gaan takel.

Die sakeontbyt sal om 08:00 by die Standerton Teatro plaasvind.

“Ons wil die gemeenskap nooi om dié uiters belangrike gesprek by te woon om ons kinders se suksesvolle toekoms te verseker,” het Roux afgesluit.

Vir meer inligting, skakel Ronel Ruthven by 072 585 9269 of Chantelle Adendorf by 079 851 6722.

Kaartjies is beskikbaar by Ons Winkel Standerton.


Exit mobile version