‘Neurokinders dink anders,’ vertel kenner van Standerton

Neurodiverse kinders kort baie liefde en aandag. Elkeen is anders en spesiaal en leer op hul eie manier.

Neurodiversiteit het in onlangse jare al meer traksie gekry, soos die wêreld aanhou om die uiters spesiale kinders te verstaan.
Carla Kühn-Potgieter van Neuro Heroes (NH), ’n nie-winsgewende organisasie wat sorg dat neurodiverse kinders opvoeding kry in ’n manier hoe hulle die inligting sal inneem en verstaan, het haar reis met twee neurodiverse seuns beskryf en inligting gedeel rakende hoe die spesiale kinderts funksioneer.
Neurodiverse kinders is elkeen uniek.
“Die basiese kentekens verskil in elke kind, maar dit is verstommend om te sien hoe elkeen hul eie persoonlikheid en talent ontwikkel,” het Carla gesê.
Sy het verduidelik dat haar eie seuns ’n goeie voorbeeld hiervan is.
Estiaan, haar oudste, is ’n uitblinker in wiskunde en het op ’n baie vroeë ouderdom van een tot 50 en terug getel, terwyl Ewald uiters musikaal is.
Sy het ook vertel van een van haar nuutste kinders by die sentrum wat ’n fluit gebou het en vir haar en haar kollega, Bree-anta Gifford, ’n opvoering gedoen het.
Nog een van haar leerders blink uit met taal en lees.
Volgens Carla is naastenby elke neurokind uitstekend met tegnologie en kan hul baie dinge leer deur middel van tablette en selfone.
NH self gebruik die program Think Digital om hulle leerders se vaardighede op te skerp.
“Die program gaan ook ons kinders toelaat om te matrikuleer indien hul sou wou,” het Carla genoem.
Tegnologie kan, in moderasie, baie voordele inhou vir neurodiverse kinders.
Dit bied geleenthede vir opvoeding, sowel as ’n veilige manier om te ontsnap as kinders oorgestimuleerd raak.
NH werk tans meestal met tegnologie, die kinders leer deur middel van tablette en moet dan daardie werk op papier kan weergee.
“Dit is omtrent 90% tegnologie en 10% papierwerk,” het Carla gesê.
Dit is ’n groot voordeel vir die kinders, omdat neurodiverse kinders oorgestimuleerd kan raak met die gevoel van papier.
Met neurodiversiteit kom ADHD gereeld voor en daarom het NH ’n spesiale aksieplan om soveel inligting moontlik oor te dra voor hul aandag aanbeweeg na die volgende aktiwiteit.
“Ons gryp die oomblikke aan soos hulle kom. Jy kan in ’n kind se gesig sien wanneer hulle ’n fokuspunt bereik het. Ons gryp daardie oomblikke aan waar ookal ons kans kry,” het Carla bygevoeg.
Sy het verduidelik hoe die kinderts selfs buite speel as ’n leergeleentheid kan aangryp.
Een van die grootste uitdagings wat onderwysers en ouers met dié kinders in die gesig staar, is hul neiging om gedrag na te maak.
Daarom is dit uiters belangrik om hulle in ’n veilige omgewing, vry van wangedrag op te voed.
Die neurokinders raak ook vreeslik maklik oorgestimuleerd, daarom reken Carla dat ’n minimalistiese leefstyl die kinders se lewens vergemaklik.
“Kinders leer as hul beweeg,” het Carla gesê.
Daarom is dit goed om die reeds besige lyfies aan die beweeg te hou.
Omdat outisme nie ’n behandelbare siekte is nie, word basiese simtome soos angs en ADHD met medikasie behandel.
Medikasie is egter nie in alle gevalle nodig nie, en omdat elke kind anders is, kan meeste neurokinders normaal funksioneer sonder medikasie.
Neurodiverse kinders kan nie op konvensionele maniere leer nie, dus is dit belangrik om hul aandag te jaag en leer interessant te maak.
“Die kinders kort ’n meer ontspanne leer omgewing.”
Dit is ook belangrik om die kinderts basiese lewensvaardighede leer.
Carla het gesê dat sy gereeld die kinders uitvat om verskeie aktiwiteite te doen soos om met die leeuwelpies by die Leeuplaas te speel.
Neurodiverse kinderts is uiters spesiaal en kan die grootste uitdagings oorwin met die regte ondersteuning.

Exit mobile version